Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 44

Spreuke 9:7-8

Bybelteks(te)

7Wie iemand so opvoed dat hy 'n ligsinnige mens word,

moet die verwyt daarvoor dra;

wie iemand so leer dat hy 'n goddelose word,

doen dit tot sy eie skande.

8Moenie 'n ligsinnige mens probeer opvoed nie,

hy sal jou daarvoor haat.

Voed 'n wyse op, en hy sal lief wees vir jou.

SPREUKE 9:7-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die 1983-vertaling van Spreuke 9:7-8 is misleidend. Die punt wat dit maak, is dat wyses leerbaar is en dwases onleerbaar. Lees dit liewer in die 2020-vertaling: “Wie ’n spotter vermaan, haal vir homself skande op die hals, en wie ’n goddelose teregwys, kry ’n klad op sy naam. Moenie ’n spotter teregwys nie, anders haat hy jou; wys ’n wyse tereg, en hy sal jou liefhê.” Kies dus nie net jou woorde wys nie, maar ook met wie jy dit deel.

Hierdie gedeelte beskryf die opstand van ligsinnige mense teen die wysheid en die gevolge wat dit vir hulle het. Maar, die opvoeders van sulke mense word ook aangespreek, omdat ligsinnigheid altyd ook ‘n vingerwysing is na dié wat verantwoordelik was vir kinders wat ligsinnigheid as lewenstyl kies (Spr 9:7). Ligsinnigheid lei onvermydelik tot goddeloosheid, omdat ‘n mens nie wysheid kan ignoreer sonder om dan ook die Bron van wysheid daarmee saam te ignoreer nie.

Interessant genoeg wil dié gedeelte ‘n mens ook waarsku daarteen om jou wysheid met ligsinnige mense te deel, omdat die kanse vir sukses so gering is (Spr 9:8). Mense wat die waarde van wysheid ervaar het, is meer ontvanklik, en meer leerbaar. Daarom moet jy jou wysheid met sulke mense deel. Met hulle kan jy moeite doen om verder en dieper te gaan.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS