Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 43

Spreuke 9:1-6

Bybelteks(te)

1Wysheid het vir haar 'n huis gebou met sewe klippilare.

2Sy het geslag en wyn reggesit,

sy het haar tafel gedek

3en haar bediendes na die stad toe gestuur

om van die hoogste plek af te roep:

4“Kom hiernatoe, almal wat nog moet leer!”

En vir dié wat kennis kortkom, het sy gesê:

5“Kom eet by my,

kom drink van die wyn wat ek reggesit het!

6Neem afskeid van die onkunde, dat julle kan lewe,

kom op die pad van die insig!”

SPREUKE 9:1-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons kom in hoofstuk 9 aan die einde van die lang inleiding van Spreuke. Spreuke 9 gee nou ‘n opsomming van wat tot dusver gesê is as ‘n basis vir alles wat hierna gaan volg.

Die slotsom van Spreuke 1-8 is dat ‘n mens kan luister óf na Vrou Wysheid (Spr 9:1-6) óf na Vrou Dwaasheid (Spr 9:13-18). Jy moet kies watter een se leiding om te volg in jou lewe.

Hierdie keuse vir een van dié twee stemme word aangevul met ‘n gedeelte oor die ligsinnige mens (Spr 9:7-12) wat die gevolge van die verkeerde keuse vir vrou Dwaasheid uitspel. Dit gee ook ‘n dwarsklap na dié wie se opvoeding ligsinnigheid tot gevolg het (Spr 9:7). Pa’s en ma’s luister!

Let op dat beide vrou Wysheid as vrou Dwaasheid hier fokus op dié wat nog onervare is en kennis kortkom. Dit beteken dat dit die rol van opvoeders is om kinders te inspireer dat hulle die regte lewenshouding aankweek om uit die verskillende stemme wat met hulle in die lewe praat – Vrou Wysheid en Vrou Dwaasheid – dié stemme te kies waarvan die inhoud wys is.

  1. 1.Vrou Wysheid nooi uit na ‘n lewe wat afskeid neem van onkunde en die pad van insig omhels.
  2. 2.Vrou Dwaasheid nooi uit na ‘n lewe van gesteelde genot sonder verantwoordelikheid wat eindig in die dood.

Vrou Wysheid word in vers 1-6 in ‘n uitgebreide gelykenis as ‘n verstandige vrou voorgestel wat vir haar ‘n huis gebou het met sewe klippilare – ‘n simbool van standvastigheid en duursaamheid. Die groot getal van sewe pilare laat ‘n mens eintlik dink aan ‘n tempel eerder as ‘n huis (huise het minder pilare gehad, indien enigsins), wat die gesag en goddelike invloed van haar wysheid beklemtoon.

Haar wyshede word in dié gelykenis voorgestel as ‘n feesmaal waarheen onkundiges uitgenooi word om in ‘n feestelike atmosfeer te kom leer. Só sal hulle die pad van insig vind om regtig te kan lewe.

Let op hoe leerbaarheid as een van die kernwaardes van hierdie tipe lewe voorgestel word: “Bly weg van onkundiges, en leef! Betree die weg van insig” (Spr 9:6).

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS