Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 41

Spreuke 8:22-31

Bybelteks(te)

22“Die Here het my geskep, Hy het met my begin;

ek is die eerste wat Hy gemaak het, lank, lank gelede.

23Ek is lankal daar, van die begin af,

voor die aarde daar was.

24Ek het gekom toe die groot waters nog nie daar was nie,

toe daar nog nie fonteine vol water was nie.

25Voor die berge hulle plek gekry het,

voor die rante het ek al gekom,

26voor die Here die aarde met sy vlaktes gemaak het,

voor Hy selfs die eerste grond gemaak het.

27Ek was daar toe Hy die hemelgewelf opgerig het,

toe Hy die horison oor die see afgemerk het,

28toe Hy die wolke daarbo gesit het,

die fonteine onder die diep water laat uitborrel het.

29Ek was daar toe Hy vir die see sy grens vasgestel het,

die waters aan sy wil onderwerp het,

toe Hy die fondamente van die aarde afgesteek het.

30Ek het my kennis by Hom gekry,

ek was elke dag sy vreugde;

die hele tyd het ek dit by Hom geniet.

31Ek het my verlustig in die wêreld wat Hy gemaak het,

die mense was vir my 'n vreugde.

SPREUKE 8:22-31AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die gordyn word in die derde deel – Spreuke 8:22-31 – nog verder oopgetrek om die karakter van die Wysheid aan ons bekend te maak.

Let op hoe die wysheid se voorrang bo alles uitgespel word. Telkens word gesê dat die wysheid voor alles was, van die begin af, voor die skepping in aanskyn geroep is (die skepping van die aarde, water, berge, grond, hemelgewelf, wolke ensovoorts).

‘n Mens moet natuurlik die beskrywing figuurlik verstaan, omdat dit poëties bedoel is (fondamente van die aarde is afgesteek, soos ‘n mens ‘n huis se fondamente sou afsteek – Spr 8:29). Die punt is dat die Wysheid voor alles was, en in alles gebruik is.

Maar let ook op dat die Wysheid nie as deel van die skepping beskou word nie. Dit maak dat ‘n mens ‘n verband kan lê na die Logos, die Woord, in die Johannes evangelie.

Paulus sê ook dat Jesus vir ons die Wysheid geword het wat van God kom (1 Kor 1:30; vgl 1 Kor 1:24; 8:6), en verbind die wysheid aan die vryspraak, heiliging en verlossing wat ons deel is met ons eenwording met Christus. Lees ook wat Paulus oor Jesus sê in terme van die skepping in Kol 1:15-23: “Alles is deur Hom en vir Hom geskep.” (vgl ook Hebr 1:1-3).

Met hierdie prentjie van die genot wat die Wysheid in die grootsheid van die skepping van God gevind het sowel as haar vreugde in die mense wat God gemaak het, motiveer Spreuke ons om dieselfde te doen. Dié wat na die Wysheid bly luister en op haar paaie bly wandel, vind hierdie ware vreugde.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS