Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 40

Spreuke 8:14-21

Bybelteks(te)

14Wie my het, het raad en behaal sukses,

ek verleen insig, ek is die een wat die mag gee.

15Met my hulp regeer konings goed

en laat maghebbers reg geskied;

16met my hulp heers die mense wat mag het,

die leiers, elkeen wat reg regeer.

17Ek het dié lief wat my liefhet;

dié wat my soek, vind my.

18Wie my het, het rykdom en eer,

het duursame en blywende besittings.

19Wat ek vir jou lewer,

is beter as goud, selfs fyn goud;

wat ek inbring,

is meer werd as die suiwerste silwer.

20Waar ek gaan, is daar geregtigheid,

my pad is dié van die reg.

21Ek maak dié wat my liefhet, ryk,

ek maak hulle skure vol.

SPREUKE 8:14-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

‘n Mens kom egter net by ‘n halwe waarheid uit as jy haat dit wat sleg is. Jy moet ook kies om deur die Wysheid begelei te word om paraat te wees om sukses te kan behaal, en veral lief te wees om mag en gesag op die regte manier uit te oefen.

Weereens word die intellektuele kant van die wysheid – verstand, kennis, skranderheid (of diskresie) – beklemtoon, maar nie in die sin van ‘n ivoortoring akademiese aktiwiteit nie, eerder in die sin van die impak wat dit het op ontsag vir God en die gedrag wat ‘n fokus op God tot gevolg het. Wysheid is toegepaste kennis, vindingrykheid, kennis wat met onderskeiding en finesse aangewend word in die lewe.

Daarom word die wysheid gepersonifieer in vers 17 as ’n begeleier van regeerders en regters in geregtigheid. “Ek het dié lief wat my liefhet, en die wat my soek, sal my vind.” Dit teken God as Iemand wat graag gee vir dié wat na wysheid, dws na Hom, soek. En let op dat die Wysheid in vers 18 sê: “Welvaart en eer is by my, bestendige rykdom en geregtigheid.” Wysheid bring dus welvaart en permanensie, soos ons al vroeër gelees het (Spr 3:13-18).

‘n Diep geestelike perspektief skemer hier deur, dat dit uiteindelik oor die Gewer van die gawes gaan, dws oor God self, nie net oor die gawes as sodanig nie. In die NT brei Paulus verder hierop uit deurdat Hy ons leer dat selfs die dood ons nie van God verwyder nie, omdat die bewussyn van God en die verhouding met Hom eintlik alles anders troef (Rom 8:31-39).

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS