Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 4

Spreuke 1:20-23

Bybelteks(te)

20Wysheid is 'n vrou wat langs die straat staan en roep,

sy laat haar stem hoor op die stadspleine,

21sy roep bo die rumoer uit,

by die ingange van die stadspoorte sê sy wat sy te sê het:

22“Julle onkundiges,

hoe lank gaan julle nog vashou aan julle onkunde,

gaan die grootpraters hulle pratery geniet

en die swape 'n afkeer hê van kennis?

23As julle luister na my teregwysing,

gee ek julle my wysheid in oorvloed

en leer ek julle my woorde begryp.

SPREUKE 1:20-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die pa gaan verder in sy eerste lewensles om wysheid as ‘n vrou voor te stel na wie ‘n mens moet luister. Die meervoud van die woord wysheid word gebruik, hoewel die werkwoorde enkelvoud is.

Dat die wysheid as vroulik voorgestel word, is interessant, en sluit aan by dieselfde gebruik in ander wysheidstradisies (Grieks, Romeins), waarskynlik omdat die hele idee van koestering, vertroeteling, en omgee meer geredelik met vroue geassosieer is. In die vroeëre Egiptiese wysheidstradisies word wysheid egter ook met Sia (of Saa) geassosieer, wat manlik uitgebeeld word. Dit is ook só in die ander Oosterse tradisies van Boeddhisme en Taoïsme.

Belangriker as dit is egter dat die wysheid regdeur Spreuke as die stem van God self voorgestel word. Dat dit vroulik is, ondersteun die gedagte dat God nie vasgevang kan word slegs in ’n manlike idioom nie; dat die beskrywing van God beide uit manlike en vroulike metafore opgebou word.

Let op dat die Wysheid eerstens die mense aanspreek wat geneig is om juis nie te luister nie. Drie tipe mense word aangespreek in vers 22:

  • onkundiges (simpletons),
  • spotters/grootpraters (scoffers/cynics),
  • dwase/swape (fools/idiots).

Peterson vertaal daarom: “Simpletons! How long will you wallow in ignorance? Cynics! How long will you feed your cynicism? Idiots! How long will you refuse to learn?” (The Message).

Interessant is dat die spotters as arrogante vrydenkers voorgestel word wat die regverdiges teenstaan, dws dié wat God wil dien, dié wat vir Hom ontsag het. ’n Mens kan hulle vandag nog herken!

Die waarde van luister word uitgespel, sowel as die gevolge van nie-luister. Luister bring veiligheid. Nie-luister bring vernietiging: “die selfversekerdheid van dwase vernietig hulle” (vgl Spr 1:32).

Dit is wat Psalm 1 ook sê, dat geluk en voorspoed lê op die pad van die regverdiges, en verydeling en verwoesting op die pad van die goddeloses, die ligsinniges en sondaars, ‘n motief wat regdeur die Psalms gehandhaaf word. God lei die regverdiges, en Hy laat die onregverdiges aan hulle eie lot en beplanning oor.

Terloops, Sokrates het gesê dat wysheid op drie maniere aangeleer word: deur refleksie (dit is die beste), nabootsing (dit is die maklikste) en ervaring (dit is die bitterste). Iets om oor na te dink!

Die pa moedig dus sy seun aan om die teregwysing van die Woord te aanvaar, want dit sal die verstoppings in sy lewe verwyder sodat God se wysheid soos ‘n lewegewende stroom na hom sal vloei. Die Woord maak soms seer om jou van binne en buite te genees.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS