Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 3

Spreuke 1:10-19

Bybelteks(te)

10As sondaars jou wil verlei, my seun,

moenie toegee nie.

11Hulle sal vir jou sê:

“Kom ons gaan lê iemand voor en vermoor hom,

ons oorval sommer iemand, al het hy ons niks gedoen nie;

12kom ons laat mense verdwyn soos die dood dit doen,

ons maak gesonde mense dood!

13Ons vat al wat waardevol is

en ons maak huise vol met wat ons roof.

14Jy kan deel in die buit,

dit sal ons almal s'n wees.”

15Moenie met hulle saamgaan nie, my seun,

bly van hulle pad af;

16hulle is daarop uit om kwaad te doen,

hulle wil gaan moord pleeg.

17'n Voël wat 'n net sien wat vir hom gespan is,

vlieg nie daarin vas nie,

18maar hierdie mense span vir hulleself 'n net,

hulle gaan hulle ondergang met oop oë tegemoet.

19So gaan dit met elkeen wat vat wat hom nie toekom nie:

rowery kos hom sy lewe.

SPREUKE 1:10-19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die “eerste lewensles” van die pa aan sy seun is dat sondaars se rebellie teen God se wil in die dood eindig. Net God se pad red jou vir die lewe.

Let op hoe die eerste twee perikope (Spr 1:1-7 en 1:8-19) ooreenkom met die eerste gebod van elk van die twee tafels van die wet: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie” (Eks 20:3) en: “Eer jou vader en jou moeder” (Eks 20:12).

Die boek Spreuke kan dus gesien word as ’n uitgebreide uitleg van alles wat in die Tien Gebooie as die hart van God se wil vir die volk uitgespel is. Trouens, Jesus beskou hierdie twee sake as die hart van sy eie lering, om God lief te hê en jou naaste soos jouself (Matt 22:37-40).

Die boek Spreuke is dus ’n heerlike praktiese uitleg van die wet, en boek waarin ’n mens die sin van Jesus se leringe kan raaksien, ’n hele paar eeue voor Hy met sy bediening sou begin.

Let op hoe die pa die alternatief uitspel. As ’n mens nie met God begin nie, as jy nie die invloed van rolmodelle respekteer nie, sit jy jou voet op ’n pad waarin jy min weerstand gaan hê teen die verleiding van misdaad en geweld. Dit is die gevaar van ’n lewe waar jy nie bewustelik lewe saam met God nie, en jou afskei van die geborgenheid van die primêre verhoudingsruimte, die gesin en familie, sowel as van die geloofsgemeenskap. Jy raak te maklik die enigste oriënteringspunt vir jou norme en waardes.

Die verleiding van onafhanklikheid en selfverryking ten koste van jou verhouding met God en jou gemeenskap moet dus ten alle koste vermy en teengestaan word. Die uiteinde daarvan is die dood. Dink na oor hoe dit op situasies in jou eie lewe van toepassing is.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS