Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 38

Spreuke 8:1-11

Bybelteks(te)

1Dit is Wysheid self wat roep,

dit is Insig wat haar stem laat hoor.

2Op die hoogtes langs die pad,

by die kruispaaie, gaan sy staan,

3langs die stadspoorte, by die ingange,

skree sy dit uit:

4“Ek roep na julle, mense, ek roep na alle mense:

5Dié wat ervaring kortkom, kan verstandig word,

dié wat dwaas optree, kan insig kry.

6Luister, want wat ek sê, is die moeite werd,

elke woord van my is opreg.

7Ek praat net die waarheid,

ek het 'n afsku van wat verkeerd is.

8Elke woord uit my mond kan die toets deurstaan,

nie een het 'n verkeerde of vals bedoeling nie.

9Mense wat insig het, weet dat ek reguit praat,

wie die kennis het, weet wat ek sê, is reg.

10Aanvaar wat ek julle leer, dit is meer werd as silwer;

kennis is meer werd as die fynste goud.

11Ek, Wysheid, is kosbaarder as edelstene;

wat jy ook al as baie werd beskou,

teen my weeg dit nie op nie.

SPREUKE 8:1-11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Spreuke 8 besing die lewe wat Wysheid gee. In vier dele word haar waarde besing (Spr 8:1-11), die omvattende inhoud van haar wysheid uitgespel (Spr 8:12-21), haar impak as eersteling van die skepping op alles wat bestaan verheerlik (Spr 8:22-31), en die lewe wat sy gee vir dié wat na haar luister erken (Spr 8:22-36). Die Wysheid laat jou regtig leef!

Let op dat die Wysheid as ‘n vrou voorgestel word. Haar ander naam is Insig (understanding) wat die intellektuele kant van die wysheid beklemtoon. Dit vul die praktiese perspektief op die wysheid in die res van Spreuke aan.

In die eerste deel – Spreuke 8:1-11 – besing die pa die waarde van die Wysheid vir gewone mense in die gang van die gewone lewe, nie net vir Israeliete of gelowiges nie, maar vir alle mense.

Dit is verder uiters insiggewend dat die wysheid beskikbaar is oral waar besluite geneem moet word. Dit lei ‘n mens af van die feit dat hier van kruispaaie, stadspoorte, en ingange gepraat word. Dit is waar die wysheid dan ook gevind sal word, Nie soseer in die onttrekking van die gewone lewe nie, maar in die hitte van die stryd, in die besig wees en worsteling in en met die lewe, daar waar besluite gevra en geneem moet word.

Vrou Wysheid staan ook in kontras met Vrou Dwaasheid, die owerspelige losbandige vrou van Spreuke. Owerspel en losbandigheid is gevolglik nie net ‘n beskrywing van buite-egtelike verhoudings is nie, maar ook ’n metafoor vir enige onwyse of dwase optrede.

Dít is waarom die Wysheid uiteindelik met God self verbind word, soos ‘n mens in die derde deel van Spreuke 8 gaan lees.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS