Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 361

Spreuke 31:1-7

Bybelteks(te)

1Die woorde van koning Lemuel van Massa.

Sy moeder het vir hom dié voorskrif gegee:

2My seun, my kind wat ek in die wêreld gebring het,

oor wie ek 'n gelofte gedoen het,

3moenie jou krag op vrouens vermors nie,

moenie jou lewe verspil met hulle nie;

hulle bring konings tot 'n val.

4Dit pas konings nie om te drink nie, Lemuel,

dit pas hulle nie,

dit pas mense met gesag nie om hulle aan drank oor te gee nie.

5As hulle drink, vergeet hulle wat die wet bepaal

en laat hulle nie reg geskied aan al die minderbevoorregtes nie.

6Gee drank aan dié wat besig is om onder te gaan,

laat dié wat swaar ly, drink;

7as so 'n mens drink, vergeet hy van sy armoede

en dink hy nie meer aan sy moeilikheid nie.

SPREUKE 31:1-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit val op hoe die boek Spreuke omraam word deur die pa in gesprek met sy seun (hfst 1-9) aan die begin van die boek, en hier die ma in gesprek met haar seun (hfst 31) aan die einde van die boek. Dit wys nie net hoe ewewigtig die boek aan mekaar gesit is nie, deur metafories aan albei ouers se onderrig aandag te gee, maar ook hoe noodsaaklik beide ouers se onderrig en leiding in ‘n kind se lewe geag word.

Dit is opvallend hoe die ma haar seun se onderskeidingsvermoë juis oor vrouens wil opskerp, maar op ‘n ander wyse as wat die pa vroeër gedoen het. Waar die pa baie uitgebrei het oor hoe vreeslik dit is om te val in die hande van die vreemde vrou (in drie al hoe langer en uitgebreide gedeeltes), en min gesê het oor die waarde van die regte vrou, doen die ma dit andersom.

Sy is duidelik ook wie hy moet vermy, maar doen dit kort en kragtig in 2 verse (Spr 31:2-3). Sy sê net dit is ‘n vermorsing van sy krag. Hy het beter dinge om te doen.

Sy is eintlik meer bekommerd oor drank, as oor die vreemde vrou, want dit rig regtig skade aan. Sy gebruik 3 keer meer verse daarvoor (Spr 31:4-9) as om oor die vreemde vrou uit te brei!

Let ook op hoe sy haar onderrig verbind aan ‘n gelofte wat sy oor haar kind afgelê het, ‘n verbintenis aan hom wat sy voor die Here gedoen het. Haar onderrig is deel van haar manier om dié gelofte na te kom.

Die probleem van drank word uitgespel in terme van vergeetagtigheid ten opsigte van die wet, en die minagting van die regte van minderbevoorregtes (Spr 31:5). Drank daarenteen is vir dié wat besig is om onder te gaan, dié wat swaar ly, want as hulle drink vergeet hulle van hulle armoede en moeilikheid (Spr 31:6-7). Die koning moet nooit van hulle nood vergeet nie, en daadwerklik iets daaraan doen.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS