Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 355

Spreuke 30:18-20

Bybelteks(te)

18Daar is drie dinge, nee, vier wat bo my begrip is,

wat ek nie verstaan nie:

19hoe 'n aasvoël in die lug bly,

hoe 'n slang teen 'n rots op seil,

hoe 'n skip op die diepsee vaar

en hoe die liefde tussen 'n man en 'n meisie werk.

20Die ontroue vrou het haar eie manier:

sy eet en vee haar mond af en sê:

“Ek het niks verkeerds gedoen nie.”

SPREUKE 30:18-20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Selfs alledaagse dinge is vir ons onverklaarbaar. Tog werk dit!

Vers 18-19. Agur is ook verwonderd oor die onverklaarbaarhede van alledaagse dinge van sy tyd. Hy verwys na vier goed wat waarskynlik met die vier klassieke natuurelemente van lug, aarde, water en vuur (liefde) verbind kan word en spel dit uit as sy verwondering oor:

  1. 1.die aërodinamika van voëls,
  2. 2.die golwing van slangbewegings,
  3. 3.die flotasie van skepe, en
  4. 4.die hormone van mense.

Hy vra natuurlik nie regtig vir ‘n verklaring nie, al sou hy met die kennis van daardie tyd in elk geval moontlik daarmee gesukkel het. Hy probeer eintlik sy verwondering uitdruk dat dié goed so wonderlik werk, sonder dat hy dit noodwendig kan verklaar.

En sou ‘n mens kon byvoeg, sonder dat ‘n verklaring die waarde van sy waarneming of die wonder daarvan sou verdiep. Waar ons vandag die eerste drie voorbeelde kan verklaar, bly die vierde natuurlik steeds ‘n misterie.

En ons kan net goed doen om verby ons verklarings te beweeg om weer die wonder van die natuur en die verwondering daaroor te herontdek. Verklarings het die manier om jou verwondering te beperk, en jou die bewussyn van die misterie van die lewe te laat verloor.

Ontrouheid is veragtelik.

Vers 20. Teenoor dié verwondering vir misterie is daar die veragting vir ontrouheid tussen geliefdes, veral waar dit ontken word en soort van as ‘n alledaagse onbenulligheid hanteer word. Dit bly vir my verstommend dat ons in ‘n tyd waar ons só baie weet, en só baie kan verklaar, nie met meer passie getrou bly aan mekaar, en die liefde bo alles beskerm nie.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS