Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 352

Spreuke 30:11-14

Bybelteks(te)

11Daar is 'n soort mens wat sy vader vervloek

en vir sy moeder nie 'n goeie woord het nie,

12'n soort mens wat homself as rein beskou,

maar van wie die vuilheid nie afgewas is nie,

13'n soort mens wat vol hoogmoed,

vol eiewaan is,

14'n soort mens wat koelbloedig en wreed is in sy hebsug

en wat teer op die hulpeloses en armes in die land.

SPREUKE 30:11-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Onreg, hoogmoed, eiewaan, wreedheid en hebsug vermenigvuldig in die geslagte.

Vers 11-14. Hierdie vier verse beskryf die ontstellende waarheid dat onreg, hoogmoed, eiewaan, wreedheid en hebsug in opeenvolgende geslagte vermeerder. Die Hebreeus wat hier in elke vers met “’n soort mens” vertaal word, dui op ‘n generasie (“‘n geslag” 1933/53-vertaling; 2020-vertaling), en word vier keer na mekaar aan die begin van die verse gebruik om die negatiewe effek van ‘n opeenstapeling van onreg deur generasies heen te verwoord:

  1. 1.‘n gebrek aan ouerliefde (Spr 30:11 – vs vyfde gebod) lei tot
  2. 2.‘n gebrek aan sondebesef (“van sy ontlasting nie skoon gewas is nie” – Spr 30:12) wat lei tot
  3. 3.eiegeregtigheid (“sy wimpers vladder” – Spr 30:13) en wat uiteindelik lei tot
  4. 4.die mees afgryslike koelbloedige en hartelose gedrag (“tande is swaarde, kake is messe” – Spr 30:14).

Dit laat ‘n mens terugdink aan die vermaning van die Here in die Tien Gebooie dat Hy onverdeelde trou aan Hom verwag. Waar dit nie gebeur nie, het dit ‘n effek op opeenvolgende geslagte: “tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat” (Eks 20:5).

Gelukkig is die teenoorgestelde effek nog méér waar dat die Here liefde (ḥesed) bewys: “tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en My gebooie gehoorsaam.” (Eks 20:6).

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS