Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 348

Spreuke 30:1-4

Bybelteks(te)

1Die woorde van Agur seun van Jake. 'n Belangrike uitspraak.

Die man het vir Itiël gesê, vir Itiël en vir Ukal:

2Ek is meer dier as mens,

ek het nie die verstand van 'n mens nie.

3Ek het nie wysheid geleer nie,

ek ken nie die heilige God nie.

4Wie het na die hemel toe opgegaan en weer afgekom?

Wie het die wind in sy twee hande gevat?

Wie het die water in 'n doek toegedraai?

Wie het die grense van die aarde vasgestel?

Wat is sy naam en wat is sy seun se naam, as jy dit weet?

SPREUKE 30:1-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hoofstuk 30 gee vir ons die wyshede van Agur. In vers 1 word iets oor hom meegedeel, waarna sy bydrae volg. Dit kan in drie dele opgedeel word.

  1. 1.‘n Belydenis oor God – vers 2-6;
  2. 2.‘n Gebed tot God – vers 7-9;
  3. 3.‘n Getuienis aan ons – vers 10-33.

Inleiding

Agur word as die seun van Jake aan ons bekend gestel. Sy identiteit is vir ons onbekend. Omdat die oorspronklike Hebreeus hāmǎśśāʾ – wat in die 1983-vertaling vertaal is met “belangrike uitspraak” – ook met “Massaïet” vertaal kan word, is dit moontlik dat hy van Massa in Arabië afkomstig is, soos trouens die geval met Lemuel is (Spr 31:1). Agur was dus moontlik ‘n buitelander.

Die laaste deel van vers 1 is moeilik om te verklaar. Sommige kies om dit te vertaal as persoonsname: “Die man het vir Itiël gesê, vir Itiël en vir Ukal” (1983-vertaling). Dit sou egter ook as volg vertaal kan word: “Die uitspraak van die man: Ek is nie God nie; Ek is nie God nie, dat ek die vermoë sou hê nie:” wat sin sou maak in die lig van die uitsprake wat volg (Murphy). Dit kan ook as volg vertaal word: “Ek is moeg, o God; ek is moeg, o God, en effentjies” (vgl die 1933/53-vertaling) wat ook sin maak van die inhoud van die res van die hoofstuk.

Belydenis oor God

Agur doen ‘n belydenis oor God (vers 2-6) waarna hy tot gebed sal oorgaan (vers 7-9).

God is onmeetlik groot.

Vers 2-3. Agur probeer die onmeetlike onderskeid tussen hom en God uitdruk deurdat hy in sy eie oë selfs minder as ‘n dier weet, as dit by sy kennis van God kom. Vers 4. Die onmeetlikheid van die heelal, die onbeheerbare karakter van die wind en die weer, en die kompleksiteit van die wisselwerking tussen die vastelande en die oseane bring Agur onder die besef van God se grootsheid (vgl Job 38-41).

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS