Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 331

Spreuke 28:17-18

Bybelteks(te)

17'n Man wat moord op sy gewete het,

moet op die vlug bly tot sy dood toe.

Niemand moet hom help nie.

18Wie 'n eerbare lewe lei, sal hulp ontvang;

wie 'n oneerlike lewe lei, sal onverwags tot 'n val kom.

SPREUKE 28:17-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vers 17. Moord vernietig ook die moordenaar. ‘n Moordenaar verloor sy reg op en plek in die gemeenskap en word tot sy eie dood deur sy gewete gepla. Letterlik vertaal: “‘n Mens wat belas is met die bloed van ‘n siel (lewe), tot by die put (doderyk) sal hy vlug, laat niemand hom help nie.” ‘n Mens kan die verhaal van Kain wat Abel doodgemaak het, en vervloek is om ‘n swerwer te word, hier as agtergrond inlees. Hoe roerend tragies spel Kain dit self uit: “My straf is te swaar om te dra. U verdryf my nou van my grond af, en tot U het ek nie meer toegang nie. Ek sal ‘n doellose swerwer op aarde wees …” (Gen 4:13-14a). Maar daar is natuurlik ook die verhaal van die moordenaar aan die kruis wat genade by Jesus ontvang het … (Luk 23:40-43).

Vers 18. God help dié wat onberispelik lewe. Trouens, wie onberispelik (opreg, eerbaar, eerlik) leef, word gehelp deur God en mens. Dit is ‘n algemene waarheid, waarvan die omgekeerde net so waar is. Iemand wat krom (korrupte) paaie volg, sal op een van hulle (of skielik) tot ‘n val kom.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS