Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 328

Spreuke 28:12-13

Bybelteks(te)

12As regverdiges rede tot blydskap het, praat almal met trots daaroor,

as goddelose mense aan die bewind kom, kruip die mense weg.

13Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie;

wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang.

SPREUKE 28:12-13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vers 12. Regverdigheid dwing respek af, goddeloosheid nie. Regverdigheid bring blydskap en trek mense aan. Goddeloosheid skrik hulle egter af. Dit is eintlik regdeur die lewe só. ‘n Regverdige se gedrag is altyd bewonderenswaardig, al dink jy nie eers presies soos hy nie. Regverdigheid dwing ‘n universele bewondering af. Die teendeel is waar van goddeloosheid. Waar goddeloses hulle mag en gesag op ‘n onregverdige wyse afdwing, kry ander seer en word hulle vryhede ingeperk. Die feit dat mense in hulle spoor moet trap waar onregverdiges aan die bewind is, maak hulle op geen manier geliefd nie. Hulle dwing geen respek af by dié wat deur hulle verdruk word nie.

Vers 13. Sondebelydenis en bekering bring genade. “Sin buried, is sin kept” (Kidner). Om jou sonde weg te steek, verander niks nie, en stel eintlik net die onvermydelike ontbloting uit. En dit ontsê jou in elk geval die genade wat moontlik is as jy eerlik erken wat verkeerd is, en dan daarvan afstand doen. Dit is ‘n universele geestelike beginsel, iets waarop die hele Bybelse boodskap van God se genade gefundeer is (vgl Ps 32:1-4; 1 Joh 1:6-9).

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS