Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 326

Spreuke 28:8-10

Bybelteks(te)

8Wie groot rykdom versamel deur mense uit te buit,

versamel dit vir iemand wat hom oor arm mense sal ontferm.

9As iemand hom doof hou vir die wet van die Here,

sal die Here 'n afsku hê van so 'n man se gebed.

10Wie eerlike mense mislei sodat hulle die verkeerde pad loop,

sal self in die gat val wat hy gegrawe het;

die opregte sal voorspoed geniet.

SPREUKE 28:8-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vers 8. God laat onregverdige wins boemerang tot voordeel van die armes. Die 1933/53-vertaling vertaal meer letterlik: “Wie sy goed vermeerder deur rente en deur woeker, maak bymekaar vir een wat hom oor die armes sal ontferm.” Die woord vir rente beteken “afknyp”. Die rente wat ‘n mens moes betaal, is baie keer reeds afgetrek van die bedrag wat geleen is. Die volle bedrag moes egter terugbetaal word. Die woord vir woeker beteken “vermeerder”. Dit beteken dat die rente in só ‘n geval meer as normaal of meer as wat ooreengekom is, vermeerder is. Beide aksies is verbied in die wet (Eks 22:5; Lev 25:36-37; Deut 23:20 – jy mag wel vir nie-Israeliete rente vra), ook hier in Spreuke (Spr 15:5) en veroordeel deur die profete (Eseg 18:8, 13, 17; 22:12). Spreuke spel hier die gevolge van uitbuiting uit. God laat dit boemerang tot voordeel van armes. God sorg dus dat onreg reggestel word. Dink aan die verhaal van Robin Hood!

Vers 9. Sonder respek vir die wet van die Here is ‘n mens se gebed tevergeefs. God luister nie na mense wat doelbewus sondig nie (vgl Jes 59:1-2). ‘n Mens kan immers nie tegelykertyd die Here en sy wil ignoreer, en steeds Hom vir leiding, beskerming of sorg vra nie. Dit pas net nie. Jakobus waarsku daarom in die NT gelowiges dat hulle reg moet bid, dws vanuit die regte verhouding met God moet bid (vgl Jak 4:1-10).

Vers 10. God laat mense val in die gat wat hulle vir ander grawe. God tree op teen die misleiding van ander en laat dit boemerang tot die misleiers se nadeel. Hulle val in die gat wat hulle vir ander grawe. Daarteenoor belowe die Here dat Hy die opregte op die regte pad sal lei: “die goeie in besit sal laat neem”.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS