Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 324

Spreuke 28:3-5

Bybelteks(te)

3'n Man wat self arm is en arm mense uitbuit,

is soos 'n reën wat alles verspoel,

sodat daar niks te ete oorbly nie.

4Wie die wet van die Here verontagsaam, praat met lof van goddelose mense;

wie die wet onderhou, beveg hulle.

5Slegte mense het geen begrip van wat reg is nie;

dié wat na die wil van die Here vra, het 'n goeie begrip van alles.

SPREUKE 28:3-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vers 3. Armes wat armes uitbuit, is ‘n tragedie. Dit is soos ‘n flitsstroom (flashflood) wat die vrugbare grond op ‘n landery wegspoel en enige moontlikheid van ‘n oes wegspoel. Die Here soek daarenteen deernis by ons, in enige omstandigheid, soos Jesus in die gelykenis van die amptenare in Matteus 18:21-35 bevestig.

Vers 4. Sonder die wet van die Here beland ‘n mens in ‘n morele moeras. Sonder God se openbaring is daar geen objektiewe maatstaf vir reg en verkeerd nie, net maar die subjektiewe oordeel van goddelose mense. Ons sien dit in Romeine 1:18-32. Paulus wys daar hoe God mense oorgee aan immoraliteit waar hulle kies om sy openbaring te ignoreer. Dit bring boonop ‘n dodelike konflik tussen dié wat God probeer dien volgens sy openbaring, en dié wat juis in opstand is teen sy openbaring.

Vers 5 brei daarop uit. Slegte mense het geen begrip van wat reg is nie. Alles is vir hulle relatief. Alles word toegelaat. Want, hulle ignoreer wat God se wil is. Dié wat egter na die wil van die Here vra, het ‘n goeie begrip van alles, want God se openbaring leer hulle om te onderskei tussen reg en verkeerd. Hulle leef daarom volgens die standaard wat God stel. Dit is ‘n diep waarheid. Die onderskeiding tussen reg en verkeerd is iets wat ‘n mens van God ontvang. Dit sluit eintlik alle ander kennis vir jou oop. Dit beteken ook dat God se wil nie beperkend is nie, maar bemagtigend. Dit maak jou vry om regtig te kan leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS