Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 322

Spreuke 28:1

Bybelteks(te)

1Die goddelose hardloop weg al jaag niemand hom nie;

die regverdiges het die moed van 'n leeu.

SPREUKE 28:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Spreuke 28 leer ons dat die vra na die wil van die Here jou help om tussen reg en verkeerd te kan onderskei. God se wil soos Hy dit in die hele Skrif geopenbaar het, is ons maatstaf.

Spreuke 29 sal hierdie lering nog ‘n stappie verder neem en ons leer dat regverdigheid ‘n veilige ruimte skep vir alle mense. Almal baat by ‘n regverdige lewe.

Elke spreuk in hierdie twee hoofstukke bestaan uit twee dele wat óf ‘n verskil uitlig tussen veral ‘n goddelose en die regverdiges (antitese of teenstelling), óf ‘n stelling uitbrei en onderstreep (sintese).

Vers 1 van Spreuke 28 gebruik ‘n teenstelling tussen ‘n goddelose en die regverdiges om die waarde van die doen van die regte dinge te onderstreep. ‘n Goddelose se onrustige gemoed laat hom maklik op die vlug slaan, selfs sonder dat iemand hom agtervolg. Regverdiges is egter vol vertroue, omdat hulle weet dat hulle optrede in lyn met God se wil is.

‘n Skoon gewete gee jou dus die moed van ‘n jong leeu. Jy kan dus uit die moed van jou oortuiging optree. Dit sal ‘n goddelose op die vlug laat slaan. Sy skuldige gewete sal hom bang maak hy word uitgevang (vgl Num 32:23; Lev 26:17; Ps 53:5).

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS