Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 321

Spreuke 27:23-27

Bybelteks(te)

23Sorg dat jy weet wat jou kleinvee nodig het,

gee aandag aan jou veetroppe.

24Rykdom hou nie vir altyd nie;

selfs koninklike mag is nie blywend nie.

25As daar van die gras hooi gemaak is, die veld weer groen word

en die voer uit die berge ingebring is,

26sal die skape jou klere voorsien

en die bokke sorg vir die koopprys van 'n stuk grond.

27Daar sal genoeg bokmelk wees om jou en jou gesin te voed

en ook nog jou slavinne te onderhou.

SPREUKE 27:23-27AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vers 23-27. Beplan jou werk sorgvuldig en voer dit nougeset uit. Hierdie uitgebreide spreuk druk ‘n baie belangrike aspek uit van ‘n mens se vertroue op die Here, en jou toewyding aan Hom. Net soseer as wat ‘n mens die Here moet vertrou met al jou weë, Hom daarin moet ken (Spr 3:1-12), en vir sy wysheid moet soek, moet jy, met die lig wat jy van Hom ontvang, jou roeping in die lewe uitvoer. Dit behels twee goed:

  1. 1.sorgvuldige beplanning – sorg dat jy weet wat jou kleinvee nodig het, en
  2. 2.voortdurende betrokkenheid – gee aandag aan jou veetroppe.

Vertroue op die Here vervang nooit beplanning en betrokkenheid nie, maar word juis daardeur bevestig. Dan sal daar iets wees om aan te trek en genoeg kos vir jou gesin en werksmense, selfs genoeg om ‘n nuwe stuk grond te koop. Wyse raad!

Die spreuk spreek ook die gemeenskap in die breë aan. Dit wil nie van almal boere maak nie, maar seker maak dat die gemeenskap begryp dat dit moontlik moet wees vir boere om te floreer. ‘n Gemeenskap wat nie sy boeregemeenskap beskerm nie sal nie oorleef nie.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS