Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 311

Spreuke 27:7-9

Bybelteks(te)

7As jy genoeg geëet het, is selfs heuning nie meer lekker nie;

as jy honger is, smaak selfs 'n bitter ding soet.

8Soos 'n voël wat sy nes net so los,

so is 'n man wat sy gesin in die steek laat.

9Reukolie en wierook is iets om te geniet,

maar die genot van vriendskap lê in die raad wat jy kry.

SPREUKE 27:7-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vers 7. Eetlus hang van jou versadigingsvlakke af. As jy versadig is, is alles bitter. As jy honger is, is alles soet. Ons het verskillende idiome wat dieselfde waarheid vasvang: “As die muis dik, is die koring bitter.” “Honger is die beste kok.”

Vers 8. Eensaamheid is bitter sleg. ‘n Mens kan hierdie spreuk verstaan soos wat die 1983-vertaling dit vertaal: “Soos ‘n voël wat sy nes net so los, so is ‘n man wat sy gesin in die steek laat.” Maar, dit kan ook doodgewoon die eensaamheid van iemand uitdruk wat weens watter rede ook al ver van sy huis af is. Die ervaring bly dieselfde. Of dit nou is weens immigrasie of vir besigheid of omdat jy gevlug het vir een of ander moeilikheid. Ek verkies laasgenoemde verstaan, omdat dit ook nader aan die oorspronklike is.

Vers 9. Die raad van ‘n vriend is kosbaar. Vriendskap se voordeel lê in die raad wat jy kry, nie net in die plesier daarvan nie. Dit is dus iets waarop ‘n mens moet fokus in jou vriendskappe. Dit moet jou keuse van vriende begelei, en die wyse waarop julle saam is. Die plesier is goed, die raad beter. Vergelyk die uitstekende vertaling van die ESV: “Oil and perfume make the heart glad, and the sweetness of a friend comes from his earnest counsel.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS