Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 291

Spreuke 25:21-22

Bybelteks(te)

21As iemand wat jou haat, honger is, gee hom iets om te eet;

as hy dors is, gee hom iets om te drink.

22Die Here sal jou daarvoor vergoed,

en jy sal jou vyand vuurrooi van skaamte laat word.

SPREUKE 25:21-22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Tema 6 – Jy moet jou vyand liefhê.

Die opdrag om jou vyand kos en water te gee, al haat hy jou, val ’n mens op. En let op hoe konkreet dit uitgespel word. Brood vir die honger vyand. Water vir die dors vyand (vgl Spr 24:17-18). Dié lewenshouding gee ’n ander perspektief op die gangbare moraal van ’n oog-vir-’n-oog, soos dit op ’n hele paar plekke in die OT beskryf word.

Dit neem selfs die opdrag in die OT om jou naaste lief te hê, soos Levitikus 19:17-18 dit van ons vra, ’n bietjie verder, en maak naasteliefde van toepassing nie net op mense van jou eie (volks-)gemeenskap nie, maar van toepassing selfs op jou vyande.

Dat die Here jou daarvoor sal vergoed, teken ook ’n kant van God waarin sy regverdigheid nie net sy geliefdes insluit nie, maar ook dié wat teenoor Hom staan. Waarskynlik lê hieragter die hoop op versoening, waarin God hoop dat deur só ’n optrede die vyand juis tot inkeer sal kom, vuurrooi van skaamte sal word (letterlik: “gloeiende kole op sy kop” wat waarskynlik metafories vir bloos gebruik word), wanneer hulle onverdiende genade ervaar in nood.

Dié perspektief op die lewe bereik natuurlik eers volle wasdom in die lewe van Jesus, waar Hy die verhaal van die Barmhartige Samaritaan vertel om dié punt verder in te skerp (Luk 10:25-37). En Paulus haal uit dié spreuk aan as hy oor die Christelike lewenswandel praat (Rom 12:20-21). Oorwin die kwaad deur die goeie!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS