Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 283

Spreuke 25:1-5

Bybelteks(te)

1Die volgende is ook spreuke van Salomo. Koning Hiskia van Juda se amptenare het dit opgeteken.

2Die eer van God lê in wat Hy verborge hou;

konings se eer lê in wat hulle aan die lig bring.

3Soos die hoogte van die hemelruim en die diepte van die aardbodem,

so kan konings se gedagtes ook nie gepeil word nie.

4As jy die slak uit silwer haal,

kan die smid iets van die silwer maak.

5As jy die goddeloses by die koning wegvat,

kan hy regverdig bly regeer.

SPREUKE 25:1-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die tweede bundel van spreuke van Salomo – Spreuke 25-29 – in die boek is lank ná sy tyd versamel en geredigeer deur koning Hiskia se amptenare, soos Spreuke hier vir ons inlig. Dws ongeveer 2 eeue na Salomo in die 8ste eeu vC. Hiskia het geregeer van 716-687 vC.

Die woord vir “opgeteken” in Spreuke 25:1, kan ook met “georden” vertaal word, wat waarskynlik beteken dat ‘n klomp losstaande spreuke wat aan Salomo toegeskryf is in rubrieke of volgens onderwerpe ingedeel is. Hierdie bundel van vyf hoofstukke werk veral met twee tipes spreuke:

  • komplementerende sinteses wat dieselfde gedagte versterk (“Wie ’n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is.” – Spr 25:11), en
  • aanvullende sinteses waar die tweede stelling die eerste stelling aanvul, uitbou of afrond (“Miswolke en wind, maar geen reën nie, so is iemand wat spog met wat hy sal gee en dit nooit gee nie” – Spr 25:14).

Spreuke 25:1-28 bevat 9 temas oor wysheid wat ek saamvat onder die oorhoofse tema: “Wyse mense tree met oorleg op.” Dit sal in hoofstuk 26 gekontrasteer word met 14 temas oor dwaasheid.

Vers 1 is natuurlik die inleiding op die vyf hoofstukke. Wat my tref, is hoe die reeks spreuke in hierdie hoofstuk versigtigheid, nadenke, selfbeheersing en emosionele volwassenheid aanprys. Dit laat my dink aan die idioom: “om te dink voordat jy doen.”

Tema 1 – Wees versigtig vir konings

In die eerste sewe verse het ons spreuke wat die aura en misterie van konings beskryf om mense te waarsku om baie versigtig met konings om te gaan:

Vers 2. Konings het eerstens – ideaal gesproke – ‘n ondersoekende geaardheid. Dit is positief. Hulle word nie maklik geflous nie.

Vers 3. Konings het egter tweedens misterieuse en onpeilbare gedagtes. Jy moet sorg dat jy nie deur hulle geflous word nie.

Vers 4-5. In die derde plek is konings feilbaar in die geselskap van goddeloses. Kyk dus goed wie die mense is waarmee die koning homself omring, of wie die mense is wat die koning se aandag probeer trek.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS