Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 282

Spreuke 24:30-34

Bybelteks(te)

30Ek het by 'n lui mens se land verbygestap,

by 'n onverstandige mens se wingerd:

31dit was heeltemal oortrek van die onkruid,

toegegroei onder die bossies,

en die klipmuur was omgeval.

32Toe ek dit sien, het ek daaroor nagedink

en daar iets uit geleer:

33nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer,

nog 'n bietjie handevou om te slaap,

34en daar kom jou armoede aangestap,

daar oorval die gebrek jou soos 'n inbreker, sonder dat jy dit kan keer.

SPREUKE 24:30-34AFR83Maak oop in die Bybelleser

Spreuk 5 – Armoede volg op luiheid en onverstandigheid.

Spreuke dink redelik baie oor armoede en wyt dit aan verskeie oorsake. Hier word ‘n sterk band tussen armoede en luiheid sowel as onverstandigheid getrek. Armoede is dus nie net aan eksterne invloede te wyte nie, ook aan interne motivering (of dan juis ‘n gebrek aan motivering!) en verkeerde keuses.

In samehang met spreuk 3 sien ‘n mens in die beskrywing van hierdie tipe armoede die gevolg van verkeerde prioriteite. Wanneer jy nie onkruid en bossies bestry nie, en jou wingerd verder beveilig deur ‘n klipmuur nie, dan kom jou armoede metafories aangestap, en oorval gebrek jou soos ‘n inbreker, sonder dat jy dit kan keer.

Vers 33-34 moet ’n mens eintlik vaslê in jou geheue: “Nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie sluimer, nog ’n bietjie hande-vou om uit te rus; dan kom jou armoede aangeloop en jou gebrek soos ’n gewapende man.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS