Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 278

Spreuke 24:23-25

Bybelteks(te)

23Wat nou volg, is ook afkomstig van wyse mense.

Dit is nie reg om partydig te wees in die regspraak nie.

24'n Regter wat 'n skuldige onskuldig verklaar,

sal deur die hele bevolking vervloek word,

deur almal verwens word.

25Maar met regters wat regverdig straf, sal dit goed gaan;

hulle sal geseën word met voorspoed.

SPREUKE 24:23-25AFR83Maak oop in die Bybelleser

Onthou dat daar 2 bundels van die gesegdes van die wyses in die boek opgeneem is direk na mekaar. Die eerste was Spreuke 22:17-24:22. Die tweede is nou Spreuke 24:23-34.

Die eerste bundel het 30 spreuke gehad van wisselende lengte. Die tweede bundel is ‘n kort addendum tot die eerste een met ‘n inleiding wat die band lê met die vorige bundel (Spr 24:23a) en 5 spreuke bevat. Dit werk veral met sinteses (“Iemand wat eerlik antwoord, is ‘n ware vriend.” – Spr 24:26).

Spreuk 1 – Partydigheid is onregverdig.

Partydigheid kom eintlik in alle verhoudings voor, waarin iemand voorgetrek word bo ‘n ander. Maar die onreg daarvan is veral wreed waar dit in die regshowe gebeur, waar ‘n regter partydig is vir ‘n skuldige en onskuldiges daaronder ly. Dit is nie reg nie, soos Spreuke so sonder ophef, maar helder sê.

Let op hoe só ‘n regter deur die hele bevolking verwens en vervloek word, sonder dat die impak op só ‘n persoon persoonlik uitgespel word. Die teendeel is egter waar van die seën en voorspoed wat regverdige regters sal ervaar. Dit sal vir almal sigbaar wees.

‘n Mens kan nie anders as om aan die partydigheid van Pilatus te dink in die verhoor van Jesus, waar hy die skuldige Barabbas vrygelaat het in plaas van die onskuldige Jesus, omdat hy die Joodse raad se guns wou behou (vgl Matt 27:15-26). Daar was die skare egter aan Pilatus se kant, opgesweep deur die Joodse leiers, en is hy nie verwens en vervloek nie.

Tog, die geskiedenis leer ons dat Pilatus se termyn as goewerneur waarskynlik kort na Jesus se dood beëindig is, hy in ballingskap gestuur is, en in 37 nC selfmoord gepleeg het. Dit is nou volgens die 1ste eeuse Joodse geskiedskrywer Josephus, die 4de eeuse kerkvader Eusebius, asook die 10de eeuse Arabiese geskiedskrywer Agapius van Hierapolis.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS