Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 277

Spreuke 24:21-22

Bybelteks(te)

21Dien die Here, my seun, en ook die koning;

moet jou nie ophou met oproermakers nie.

22Hulle ondergang kom skielik;

niemand weet wanneer die Here

en die koning hulle vernietig nie.

SPREUKE 24:21-22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Spreuk 30 – Leef in ontsag vir die Here en gesagsfigure.

Die eerste bundel van die spreuke van die wyses word afgesluit met hierdie oproep om met ontsag vir die Here te leef, en Hom te dien, sowel as om die gesagsfigure in die lewe (koning) te erken, en nie by oproer of rebellie (gewelddadig) betrokke te raak nie.

Dit sluit natuurlik nie uit dat ‘n mens betrokke raak by mense wat onregverdig deur ‘n koning behandel word nie, soos spreuk 26 van die wyses dit so mooi verwoord het. Die beloning om in hierdie wêreld in vrede met God en gesagsfigure te leef, is dat diegene wat dit doen die rampe sal ontsnap wat opstandiges tref, beide in hierdie lewe en die lewe hierna.

Vers 21a word in 1 Petrus 2:17 gebruik: “Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser.”

Vers 22 word in Paulus se oproep in vers 4 van Romeine 13:1–7 gebruik om gelowiges se verpligtinge teenoor die owerhede te begrond: “want die owerheid is ’n dienaar van God tot jou beswil. Maar as jy kwaad doen, het jy rede om bang te wees, want die owerheid het nie verniet die reg om te straf nie. Hy is immers ook hierin die dienaar van God dat hy die kwaaddoener moet straf.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS