Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 26

Spreuke 5:7-14

Bybelteks(te)

7Luister na my, my seun,

bly by wat ek jou sê:

8Bly weg van haar af,

moenie naby haar huis se deur kom nie

9dat jy nie jou mooiste jare verspil nie,

jou beste jare aan 'n hartelose mens gee nie,

10dat vreemdes hulle nie vol eet

aan die vrug van jou arbeid nie,

dat dit waarvoor jy gewerk het,

nie in die huis van 'n ander beland nie.

11Jy sal lê en kreun as jou einde nader,

met die vleis aan jou liggaam weggevreet,

12en jy sal sê: “Ek het my opvoeding versmaai,

ek het my nie gesteur aan die onderrig nie.

13As ek maar geluister het na my leermeesters

en my ore oopgemaak het toe hulle my geleer het!

14Hier sit ek nou in die grootste ellende

voor die oë van almal.”

SPREUKE 5:7-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die pa borduur voort op die versoeking van die vreemde vrou en waarsku al sy seuns teen die effek wat ontrouheid in die huwelik op jouself kan hê. Hy waarsku hulle dat hulle nie hulle beste jare vir ‘n hartelose mens sal gee nie. Let op hoe realisties die pa die gevolge teken. ‘n Verhouding met ‘n vreemde vrou – ‘n vrou wat met iemand anders getroud is – het ekonomiese en patologiese gevolge. Jy doen jouself daardeur finansiële sowel as fisiese skade aan. Jy gaan geld verloor sowel as jou gesondheid.

Met ontrouheid loop jy dus die gevaar dat jy uiteindelik jou welvaart met ander moet deel – dink aan die moderne problematiek van onderhoud met egskeidings – sowel as die gevaar van siektes moet trotseer. Jy sal boonop ook deur jou gewete aangekla word.

Ontrouheid in die huwelik is nie speletjies nie! Dit lei tot ’n private hel en publieke skandes, sê Spreuke. Natuurlik is daar genade en vergifnis – so leer ons in die NT. Maar, voorsorg is beter as nasorg.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS