Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 24

Spreuke 4:20-27

Bybelteks(te)

20My seun, hoor wat ek vir jou sê,

luister goed na my woorde!

21Moet dit nie vergeet nie,

hou dit altyd in gedagte,

22want dit beteken lewe vir dié wat daarna luister,

'n volle lewe vir hom wat dit besit.

23Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan,

want dit bepaal jou hele lewe.

24Weerhou jou van leuens,

moenie mense mislei nie.

25Hou jou oë op die pad vorentoe,

kyk reg voor jou uit.

26Baken jou koers af,

dan sal jy seker wees van elke tree.

27Moenie links of regs wegdraai nie,

weerhou jou van die verkeerde koers.

SPREUKE 4:20-27AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die sewende lewensles” van die pa aan sy seun is om koers te hou op die pad van wysheid. In die proses is sy ore (Spr 4:20), hart (Spr 4:23), mond (Spr 4:24), oë (Spr 4:25), en voete (Spr 4:26) belangrik, almal metafore vir aspekte van sy soeke na en uitlewe van die wysheid.

  • Sy ore moet vir die wyse onderrig van sy rolmodelle uitgeleen word. Hulle leiding en opvoeding moet gevolg en nageboots word.
  • Sy binnekant moet beskerm word teen boosheid en negatiwiteit, meer as enigiets anders. Dit máák saak wat ’n mens dink en hoe jy dink.
  • Sy mond moet reguit praat en leuens en misleiding soos die pes vermy.
  • Sy moet reguit kyk na die pad waarvoor hy deur die wysheid geroep is. Hoewel dit in dié konteks meer met eerlikheid en opregtheid te make het, laat dit ‘n mens tog dink aan Job wat van homself gesê het dat hy ’n verbond met sy oë gesluit het om nie na ’n ander vrou te kyk nie (Job 31:1), en Jesus wat dieselfde sentiment in die Bergrede gebesig het (Matt 5:28).
  • Sy voete moet doelgerig bly op die pad wat die wysheid vir hom afgebaken het. Sy lewenstyl moet verband hou met wat in sy binneste gebeur.

In jou vertroue op God en in jou luister na Hom en in die inspanning om die regte pad te vind en daarop te hou, is daar miskien min dinge wat so belangrik is, as om jou hart – jou binnekant – bo alles te bewaar, om versigtig om te gaan met jou diepste oortuigings en motiverings: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe” (Spr 4:23).

Maar natuurlik is dit nie net vertroue op God, ‘n luisterende gesindheid en die fokus op jou manier van dink, jou binnekant, wat jou pad bepaal nie. Jy moet ook die pad stap wat God wys.

Soos Spreuke sê: “Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree” – Spreuke 4:26. Dws, soos dit in die 1933/53-vertaling staan: “Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë vas wees,” en vers 27: “wyk nie regs of links af nie, (en) hou jou voet ver van boosheid.” Soos die wyses inderdaad later sal eggo: “Luister, my seun, soek die regte insig: bly op die regte pad” (Spr 23:19).

Deur vir jou bakens op te rig op jou pad, en daarvolgens koers te hou, sal jou nie net op die regte pad hou nie, maar dit ’n vreugde maak, nie net vir jouself nie, maar ook vir ander.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS