Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 23

Spreuke 4:14-19

Bybelteks(te)

14Moenie agter die goddeloses aanloop nie,

vermy die pad van slegte mense.

15Los dit, moenie daarop loop nie,

draai weg, vermy die slegte mense;

16hulle kan nie slaap

as hulle nie kwaad gedoen het nie;

hulle lê wakker

as hulle nie iemand se ondergang bewerk het nie.

17Misdaad is hulle kos,

geweld hulle drank.

18Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig

wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is;

19die pad van die goddeloses is soos die donker:

hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie.

SPREUKE 4:14-19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die pa borduur voort op die beeld van die twee paaie. Die pad van die goddelose raak al hoe donkerder deur afvalligheid en geweld. Die pad van die regverdige raak al hoe helderder deur die beoefening van wysheid.

Dit is dus nie net belangrik om die pad van die regverdiges te kies nie, maar om ook die pad van die goddeloses en slegte mense te vermy. Die twee paaie laat dit óf donker óf lig word in jou lewe. Om die waarheid te sê, die pad van goddeloosheid is verslawend. Jy kan later nie meer daarsonder nie (jy lê wakker!). Dit beïnvloed jou hele lewe, en stel jou bloot aan die verydeling wat met boosheid en slegte mense saamgaan.

Geniet en oordink die betekenis van hierdie pragtige vers: “Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is” (Spr 4:18)!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS