Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 221

Spreuke 21:1-2

Bybelteks(te)

1Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here;

soos 'n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies.

2In sy eie oë is alles wat 'n mens doen, reg,

maar die Here toets die gesindheid.

SPREUKE 21:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Spreuke 21 toon van meet af aan meer van ‘n eenheid as van die ander hoofstukke in hierdie versameling van Salomo se spreuke. Dit begin en eindig met ‘n verwoording van God se aktiewe betrokkenheid in alles wat gebeur, van die koning af regdeur tot by gewone mense (vgl Spr 21:1-2; 21:30-31).

Vyf keer word die woord “reg” en twee keer die woord “geregtigheid” gebruik om die lewenstyl wat God se guns wegdra, uit te druk, veral in die sin van ‘n hoë premie te stel om goeie verhoudings oor die spektrum van die lewe te handhaaf (vgl Spr 21:2, 3, 7, 15, 18, 21).

Dit verskaf die goue draad wat die spreuke by mekaar laat pas. Die kersie op die koek – die sleutel om die hoofstuk se boodskap te verstaan – is die spreuk wat die herstel van verhoudings in God se regverdigheid sien – die “Regverdige Een” soos die “regverdige” daar vertaal kan word (Spr 21:12). God se reg en geregtigheid motiveer ons om goeie verhoudinge te handhaaf. Ons kan Hom immers vertrou om dinge reg te stel.

Vers 1. Die Here bepaal ‘n koning se koers. Sy wil en besluite (hart in Hebreeus) is in God se hand. Hy lei dit soos ‘n stroom water in God se rigting. Dit gee ‘n mens moed om God se hand aktief te soek in alles wat gebeur, selfs wanneer jy geen direkte invloed daarop kan uitoefen nie.

Soos Richard Niebuhr so raak gesê het: “God is acting in all actions upon you. So respond to all actions upon you as to respond to his action.” (The Responsible Self).

Dit geld ook die invloed van die konings van hierdie wêreld. Vers 2. Jy kan die Here nie flous met jou planne nie, want Hy toets of weeg die hart – jou karakter, jou gesindheid en motiverings (vgl Spr 16:2). Spreuke 17:3 sluit hierby aan en spel uit hoe God “harte” toets: Hy louter dit soos ‘n mens goud in ‘n oond hanteer, dws onder buitengewone “warm” omstandighede!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS