Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 220

Spreuke 20:28-30

Bybelteks(te)

28Liefde en trou maak 'n koning veilig;

deur liefde staan sy troon sterk.

29Die trots van jongmanne lê in hulle krag;

die versiering van oumense is hulle grysheid.

30'n Pak slae laat 'n mens ophou kwaaddoen;

dit laat jou selfs ophou dink aan kwaad.

SPREUKE 20:28-30AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vers 28. Troue liefde (ḥeseḏ) en waarheid (ʾěměṯ) bevestig die heerskappy van ‘n koning op ’n volhoubare manier. Die eerste reël van die vers verwys na die troue liefde en betroubaarheid van die koning. Die tweede reël van die vers na God se troue liefde vir die koning, die verbond met Dawid wat die basis van koningskap vorm (vgl 2 Sam 7).

Vers 29. Jongmans se trots is hulle krag; oumense se waarde lê in hulle grysheid. Grys hare is hier ’n simbool van hulle waardigheid, wysheid en ervaring. Wedersydse respek bring die beste in ons na vore.

Vers 30. Letterlik vertaal: “Kneuswonde suiwer boosheid; lyfstraf die kamers van die binneste.” Fisieke straf het dus geestelike waarde, en streng dissipline hou jou weg van die kwaad. Presies dieselfde woorde (ḥabbûrâ – wonde – en makkâ – lyfstraf) word vir die lyding gebruik waaraan God die Dienskneg van die Here onderwerp het (kneuswonde en lyfstraf / geseling – Jes 53:4-5). Uit die NT weet ons dat Jesus, die Dienskneg van die Here, gewond en gegesel is vóór sy afgryslike kruisdood (Joh 19:1). Net, in sy geval is dit paradoksaal óns binnekant wat gesuiwer word.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS