Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 219

Spreuke 20:26-27

Bybelteks(te)

26'n Wyse koning sif die skuldiges uit

en straf hulle genadeloos.

27Die Here gee aan die mens die lewe.

Die Here sien deur die hele mens.

SPREUKE 20:26-27AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vers 26.’ n Wyse koning oordeel met integriteit en ontbloot en straf goddelose mense. Spreuke gebruik die metafoor van ’n klipwiel wat op ’n dorsvloer oor die koring gerol word om die koring se dop te breek. Só maak die koning met bose mense. Daarvoor het hy natuurlik self integriteit nodig (Spr 20:8) sowel as liefde en trou aan sy lojale onderdane (Spr 20:28).

Vers 27 verwys na die skepping van die mens waar God die “asem van die lewe” in Adam ingeblaas het (nišmat – Gen 2:7). Daarom word dit hier vertaal met “gees”. Dit is daardie geestelike dimensie van ons wese waarmee ons met God in kontak kom. Dit is die setel van ons morele, intellektuele en geestelike vermoëns. Sommige vertaal dit daarom ook met “gewete”.

Die metafoor waarmee hier gewerk word is dat die “gees” van die mens soos ’n lamp van die Here is wat van kamer tot kamer in die innerlike mens gaan om God se lig daarop te laat skyn. Spreuke sê hiermee dat ons in ons gees weet wat God wil hê. Dit is die deel waar die Gees met ons werk, soos Paulus ons in die NT leer (Rom 9:1).

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS