Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 216

Spreuke 20:20-21

Bybelteks(te)

20As jy jou vader en moeder vervloek,

is jou lewe daarmee heen en bly net die pikdonker oor.

21Besittings wat oneerlik verkry is,

maak jou op die lang duur nie gelukkig nie.

SPREUKE 20:20-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vers 20 is begrond in die vyfde gebod, om jou pa en ma te eer (vgl Eks 20:12). Dit is ook die enigste gebod waaraan ’n belofte gekoppel is: “dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.”

Wie dus sy pa of sy ma (ver)vloek – dit sluit in om hulle “lig te skat, te ignoreer, as waardeloos te reken, of met minagting te hanteer – sy (lewens)lamp gaan in pikdonker dood. Dit is om soos in ’n swart gat ingesluk te word waaruit geen ontsnapping moontlik is nie.

Onthou ook dat Bybels gesproke gegeld het of jy nou van hulle gehou het of nie. Só word dit ook in die NT geleer (vgl Ef 6:1-9). Trouens, hierdie respek word aan alle gesagsinstansies gegee: “omdat die Here dit wil” (vgl 1 Pet 2:13-18). Spreuke sal nog twee keer soortgelyke uitsprake maak (vgl Spr 30:11, 17).

Vers 21 sluit aan by die vorige spreuk in Spreuke 13:11 se waarneming van die inherente onstabiliteit van rykdom en waarsku dat ’n besit wat haastig – dit kan ook oneerlik wees – bymekaar gemaak word, nie kan hou nie (vgl Spr 21:5-6; 28:20, 22). Dink aan die seun in die gelykenis van die Verlore Seun wat sy erfporsie voortydig ingepalm het, en dit tot die laaste sent verkwis het (vgl Luk 15:12).

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS