Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 146
Spreuke 16:1-3
Bybelteks(te)
SPREUKE 16
Kom ons kyk ‘n bietjie terug na hoofstuk 15. Hierdie bydrae is ’n bietjie langer as gewoonlik. As jy nie alles kan lees nie, fokus net op die laaste 4 paragrawe. Dit handel oor hierdie drie verse.
Woorde het ‘n ongelooflike impak op mense.
Dit kan mense bou of dit kan hulle breek: “’n Sagte antwoord laat woede bedaar; ’n krenkende woord laat woede ontvlam” (Spr 15:1). Wyse woorde maak kennis begeerlik, terwyl dwase woorde onsinnig is – “fools are leaky faucets, dripping nonsense” (Peterson) (Spr 15:2). “Kalmerende woorde bring lewe, skynheilige woorde breek mense” (Spr 15:4). “Wyse mense versprei kennis met wat hulle sê” (Spr 15:7). Hulle diepsinnige greep op wat regtig belangrik is, verlig ander mense se begrip met die regte soort kennis. En hierdie fokus op woorde bly ’n life-long journey: “’n Verstandige (intelligente) mens is op soek na kennis” (Spr 15:14) en dink eers na daaroor voor hy of sy dit met ander deel (Spr 15:28). Dit is in wese wat regverdigheid en billikheid beteken, om eers na te dink oor wat regtig aan die gang is, voordat in gesprek getree word. Want, na alles, “wat is beter as die regte woord op die regte tyd?” (Spr 15:23) as dit uit diep nadenke kom! Dit is nie net vir jouself ’n vreugde nie, maar vir almal wat jou aanhoor. Hierdie wysheid van Spreuke oor woorde en die betekenis wat dit aan mense se lewens gee, is ’n universele waarheid, wat geëggo word oor die hele wêreld, in al sy diverse verskeidenheid kontekste. ’n Goeie tyding verkwik ’n mens byvoorbeeld (Spr 15:30) en dit is van almal van ons waar. Mense wat ag slaan op woorde en die betekenis wat dit oordra, word self wys, al is woorde soms ook teregwysinge (Spr 15:32) en beteken dit dat jy nederig genoeg moet wees om geleer te word, voor die eer van ’n wyse lewe jou deel word (Spr 15:33). Dit is juis in beraadslaging waarin van verskillende kante af geluister word na ’n saak, wat die planne wat ons maak suksesvol kan wees (Spr 15:22). Trouens ons woorde maak ten diepste vir God saak, ons woorde aan mekaar, EN ons woorde aan Hom! Let op hoe Spreuke sê: “aangename woorde is vir Hom aanneemlik” (Spr 15:26) waar veral gedink word aan ons woorde in gesprek met mekaar! Ons woorde aan mekaar maak vir God saak. Maar ook ons woorde wat aan God gerig is, maak vir Hom saak. Daarom lê Spreuke ook klem daarop dat God die gebede van opregtes en regverdiges aanvaar en hoor (Spr 15:8,29). Wat ’n belofte! Maar Spreuke is ook baie bewus van God se alomteenwoordigheid, wat hier onder andere uitgespel word as sy alsiendheid. “Die Here sien oral; Hy hou slegte en goeie mense dop” (Spr 15:3). Peterson gee daarom vers 1-11 die opskrif: “God Doesn’t Miss a Thing.” Inderdaad!
Dit sal goed wees om vir jou ‘n prentjie te trek van wat alles van God gesê word in hoofstuk 15 en ook hoofstuk 16 wat ons nog gaan lees. Uiteraard is dit net ‘n gedeeltelike prentjie, maar nietemin ‘n inspirerende een:
God is alsiende en hou alle mense, goed en sleg, dop (Spr 15:3). God luister na die gebede van opregtes, maar verafsku die offers en lewens van goddeloses (Spr 15:8-9, 29). Wanneer Hy met jou tevrede is, laat Hy selfs jou vyande in vrede met jou lewe (vgl Spr 16:7). Alle mense se gedagtewêreld is vir God oop en bloot (Spr 15:11). God beskerm weduwees (Spr 15:25) en gee voorspoed vir dié wat ag gee op sy woorde (vgl Spr 16:20). God hou van aangename woorde (Spr 15:26). God bepaal wat in jou lewe gebeur – die laaste woord daaroor kom van die Here af (vgl Spr 16:1,9,33). Dit sluit in dat Hy jou hart en gesindheid ondersoek (vgl Spr 16:2) en dat jy Hom daarin moet ken (vgl Spr 16:3). Die Here het alles met ‘n doel gemaak, selfs die goddelose kry ‘n rol in sy plan (vgl Spr 16:4). Die Here hou nie van verwaande mense nie (vgl Spr 16:5). God bepaal die norme en maatstawwe van die reg (vgl Spr 16:11), wat nie net só in die Joodse tydvak was vir die volk nie, maar steeds ‘n groot impak het in die regstelsel van vandag.
Terug by hoofstuk 16
Die vorm van die spreuke van Salomo verander in hoofstuk 16 na sinteses eerder as antitese soos dit die geval was in hoofstuk 10-15. Dit sal die geval wees tot aan die einde van hierdie eerste bundel van sy spreuke in hoofstuk 22. ‘n Mens kan die hoofstuk in drie deel, waarvan die eerste en tweede deel ‘n duidelike tematiese samehang het, en die derde deel meer losstaande spreuke oor die wysheid bevat:
Die mens wik, maar God beskik – Spreuke 16:1-9 Die ideale koning – Spreuke 16:10-15 Wysheid is beter as welvaart – Spreuke 16:16-33
Benewens die verse in hierdie hoofstuk wat ons help om na te dink oor ons Godsbeeld (Spr 16:1,7,9,11,2), vorm vers 1-9 ‘n unieke eenheid waarin nagedink word oor die samehang tussen mense se voornemens en beplanning aan die een kant, en die Here se bepaling en beskikking van wat gebeur. In die woorde beplan (menslik) en bepaal (Goddelik) lê die boodskap van dié gedeelte opgesluit (Spr 16:9). Albei is noodsaaklik!
Terug by die teks vir vandag
Vers 1 lees letterlik in Hebreeus: “Van die mens is die planne/voorbereiding van die hart (gedagtes), maar van die Here is die antwoord van die tong.” Die tweede deel van die vers kan die beste verstaan word as God se reaksie op wat die mens beplan, dws dit is die antwoord van Sy tong, by wyse van spreke. Peterson vertaal daarom: “Mortals make elaborate plans, but God has the last word,” soos inderdaad die 1983-vertaling dit ook het.
Met al die uitsprake in Salomo se eerste bundel oor mense se woorde en die impak daarvan op die gemeenskap en die lewe, is hierdie sintese van hom miskien die belangrikste spreuk. Ons woorde maak saak. Dit is duidelik, soos in hoofstuk 15 al gesien. God se woorde maak nog meer saak. Dit is ook duidelik, soos reeds in hoofstuk 15 gesien. Wat hoofstuk 16 egter nog helderder daaroor sê, is dat God se woorde lotsbepalend is. Want, Hy doen wat Hy sê.
Omdat God die laaste woord oor alles het, beteken dit vir my ook dat Hy die eerste woord oor alles moet hê, presies wat in Spreuke 1:1-7, en Spreuke 3:1-12 aangevoer is. Anders kan dit ‘n mens suur bekom. Dit is waarom ontsag vir Hom die begin van die wysheid is, trouens die begin selfs van kennis is, ten minste van dié kennis wat die moeite werd is, soos Spreuke nou al ‘n paar keer onderstreep het.
God kyk na gesindhede – vers 2. Peterson vertaal interessant genoeg “God probes for what is good” wat insiggewend is. Daarom, beplan en voer uit wat God wil hê, dan sal jou planne uitwerk – vers 3.