Bible Society of South Africa

Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 119

Spreuke 14:11-12

Bybelteks(te)

11Die goddelose en sy nageslag sterf uit;

die opregtes het 'n groot nageslag.

12Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk,

maar die uiteinde daarvan is die dood.

SPREUKE 14:11-12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vers 11 kontrasteer in die oorspronklike teks op figuurlike wyse die huis van die goddelose met die tent van die opregte. Huis en tent word soms uitruilbaar in die Bybel gebruik (Job 8:8-22), maar hier lyk dit asof dit gekontrasteer word. Die huis van die goddelose – sy nageslag – sal verdelg word, al lyk dit oënskynlik onbeweeglik vas (vgl Jesus met die twee metafore van die huis op die rots en die huis op die sand – Matt 7:24-27). Die tent van die opregte – sy nageslag – sal floreer soos ’n boom met nuwe bloeisels en nuwe groei, al lyk dit oënskynlik meer uitgelewer aan die storms van die lewe.

Vers 12 waarsku jou soos in Spreuke 3:6 om nie jou eie oordeel te gebruik of ’n pad reg of verkeerd is nie, maar jou leiding van die Here en sy Woord te ontvang (vgl Spr 16:25 vir dieselfde spreuk). Anders beland jy nie net in die moeilikheid nie, maar in die dood (die Griekse vertaling, die LXX of Septuaginta, vertaal dit met Hades, dws doderyk of ewige dood).

Die vers herroep die verraderlike pad van die slegte vrou (vgl Spr 5:3-6; 7:25-27), maar word meer algemeen bedoel (vgl Ps 1). Dit is net ’n dwaas wat dink dat sy pad altyd reg is (vgl Spr 12:15), wat dink dat kortpaaie werk (vgl Spr 15:19), of wat dink dat wyse raad geïgnoreer kan word (vgl Spr 13:14). Die belangrike is nie wat jy self dink oor jou lewe nie, maar hoe God daaroor oordeel.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS