Spreuke: Eenjaarleesplan – Dag 112
Spreuke 13:20-23
Bybelteks(te)
SPREUKE 13
Spreuke gee vir ons hier vier waarhede waarin telkens ‘n belofte opgesluit lê.
Vers 20 beskryf die invloed van wyse en dwase vriende. As jy tyd spandeer met wyse mense, kry jy self wysheid. As jy tyd spandeer met dwase mense, raak jy self sleg (vgl Ps 1).
Vers 21 verpersoonlik die kwade en die goeie. Die algemene waarheid is dat teenspoed (onheil, swaarkry) die sondaars agtervolg en voorspoed die regverdiges. Veral as ‘n mens die einde van hulle lewens as maatstaf neem (vgl Ps 73). ‘n Mens moet net nie probeer om die waarheid om te keer en uit die swaarkry en voorspoed wat mense beleef, af te lei of hulle sondig leef of regverdig nie. Dit was die probleem van Job se vriende. Hulle het uit Job se swaarkry verkeerdelik afgelei dat hy sondig is, terwyl Job se swaarkry ‘n toets was of hy aan God gehoorsaam sal bly, selfs al kry hy swaar.
Vers 22 borduur voort op die nalatenskap van ‘n goeie mens en ‘n sondaar. ‘n Goeie mens laat ‘n erfenis na vir sy kleinkinders. Maar selfs die besittings van ‘n sondaar kom in die hande van die regverdige.
Vers 23 verkondig die waarheid dat in ‘n land waar reg en geregtigheid heers, sal almal, ook die armes, genoeg kos hê om te eet. Die woord wat vir “grond” gebruik word, dui op ‘n braakland, ‘n land wat nuut omgeploeg is. Die belofte is dat dit sy oes sal lewer as die gemeenskap God dien (vgl Jer 4:3; Hos 10:12 sowel as die gelykenis van die saaier – Matt 13).