Skatkis van wysheid – Dag 7

Gaan kyk na die mier, luiaard

Bybelteks(te)

SPREUKE 6

6Gaan kyk na die mier, luiaard,

kyk hoe hy werk, en leer by hom.

7Hy het nie 'n leier nie,

nie 'n opsigter of 'n regeerder nie,

8tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer,

versamel hy sy voedsel in die oestyd.

SPREUKE 6:6-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie ʼn leier nie, nie ʼn opsigter of ʼn regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd.” Spreuke 6:6-8

Ons leef in ʼn tyd waar ontspanning en vermaak ʼn groot plek in ons lewe inneem. Gesonde ontspanning op sy tyd is goed. Ontspanning kan egter nie ten koste van ʼn mens se werk gebeur nie. Werk is ongelukkig laag op baie mense se lys. Dit was ook die geval in Salomo se tyd. Daarom geld wat Salomo sê ook vandag: “Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom.”

Dit is so dat verskillende mense baie hard werk. Daar is ook diegene wat té hard werk. Hulle dryf hul liggaam tot die uiterste, of anders gestel, hulle pleeg roofbou op hul liggaam. Dit is onverstandig. Ander werk eerder nie. Dit is duidelik dat hier nie na siekes, invalides en werklose mense verwys word nie, want hulle kan as gevolg van omstandighede nie werk nie. In sulke gesinne word heel dikwels ʼn verborge hartseer gely.

Salomo praat nie van hierdie mense nie, maar fokus eerder op die mense wat nie wíl werk nie. Hulle dink mense wat werk is dwaas en meen dat hulle self baie slim is. Iemand wat so leef, is sondig. Hulle oortree die opdrag van die Here.

Baie mense sê hulle het geen belangstelling in die toekoms nie. Hulle het geen verantwoordelikheid teenoor die volgende geslag nie. So word die toekoms afgebreek, in plaas van opgebou.

Veral jongmense moet na die miere kyk. ʼn Mens se jeugjare is die beste tyd om na die miere te kyk en te leer om aan jou toekoms te bou. Woeker met jou talente, soos die miere. Dan sal jy die vrugte daarvan pluk. Baie mense sê in hul ouer jare: Ek het die tyd verby laat gaan en nou is dit te laat om aan die toekoms te bou.

Wanneer ons die miere sien sorg vir hulle toekoms, dan roep die Here ons deur hul voorbeeld om dit ook vir ons toekoms te doen. Ons kan ook in ʼn geestelike sin lui wees. Ons het geen sin daarin om die Here te dien nie. Ons doen dikwels min of niks daaraan nie. Of ons doen dit voetslepend en nie vrywillig nie. Dit is dan wat ons die miere moet onthou.

Bible Society of South Africav.4.29.1
VOLG ONS