Skatkis van wysheid – Dag 6


Gaan kyk na die mier, luiaard
Bybelteks(te)
SPREUKE 6
“Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie ‘n leier nie, nie ‘n opsigter of ‘n regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd.” (Spreuke 6:6-8)
Salomo se advies aan die luiaard is om na die miere te gaan kyk wat by sy huis besig is. Hulle is hard aan die werk. Een is besig om ʼn saadjie saam te sleep en ander dra materiaal aan vir hul nes. Dit is ʼn groot bedrywigheid om die miernes. Die luiaard moet maar goed kyk en by die miere leer.
Uit verskillende studies is gevind dat miere baie wys en hardwerkend is. Iemand het geskryf: “Ek het by miere groter boukuns gesien as in die paleise van Napels.” Nog iemand sê: “Die miere versamel koringkorrels, laat dit in die son droog, byt die punte af, en neem dit ondergronds, waar hulle dit bewaar.” Baie voorrade graankorrels word op hierdie manier versamel. Daar is bevind dat miere gemiddeld sestien uur per dag werk.
Dit gaan egter nie net om die werklus van die miere nie, maar dit gaan ook oor die tydstip waarop hulle hul kragte aanwend. Dit is in die somer, as die oes op die land is. Juis dan is die miere besig om hul kos te versamel. Dalk is daar later niks meer op die land te kry nie – daarom werk hulle nou so hard. Op hierdie manier sal daar volop wees om in die winter te eet.
So sorg die miere vir die hul toekoms en sodoende vir hulle lewensonderhoud. Buitendien word die miere in die winter gebore en hulle moet ook iets te ete kry. So sorg die een generasie vir die ander.
Die luiaard moet ook maar goed kyk hoe die miere werk. Daar is nie ʼn leier, opsigter of regeerder nie. Nie een van die miere word gedwing om te werk nie. Elkeen doen dit vrywillig. Daar is nie ʼn baas wat bevele gee nie en daar word nie gestaak nie.
In Spreuke 6:10-11 staan geskryf: “Nog ʼn bietjie slaap, nog ʼn bietjie sluimer, nog ʼn bietjie handevou en bly lê, en daar oorval die armoede jou soos ʼn rower, daar oorrompel die gebrek jou soos ʼn inbreker.” By die miere is dit nie so nie. Die luiaard leef in armoede en dit is hulle eie skuld – hulle is self verantwoordelik vir hul ondergang.