Skatkis van wysheid – Dag 5

Gaan kyk na die mier, luiaard

Bybelteks(te)

SPREUKE 6

6Gaan kyk na die mier, luiaard,

kyk hoe hy werk, en leer by hom.

7Hy het nie 'n leier nie,

nie 'n opsigter of 'n regeerder nie,

8tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer,

versamel hy sy voedsel in die oestyd.

SPREUKE 6:6-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

GENESIS 3

17Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet,

“is die aarde deur jou toedoen vervloek;

met swaarkry sal jy daaruit 'n bestaan maak,

jou lewe lank;

GENESIS 3:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie ʼn leier nie, nie ʼn opsigter of ʼn regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd.” Spreuke 6:6-8

Al Salomo se kennis en wysheid kom uit die vrees van die Here. Dit is om met God en sy woord rekening te hou in ons daaglikse lewe.

In hierdie verse laat Salomo die lig op ʼn belangrike deel van ons lewe val, naamlik werk. Daarmee wil Salomo ook sê dat ons selfs in ons daaglikse werk die Here moet vrees en Hom moet dien.

God het die mens geskep om te werk en te rus. Adam en Eva het die opdrag gekry om die aarde te bewerk en te bewaar. Ondanks die sondeval het hierdie opdrag gebly, al sou dit dan met moeite wees. In Genesis 3:17 het die Here vir hulle gesê: “… met swaarkry sal jy daaruit ʼn bestaan maak, jou lewe lank.”

Ons werk is beide ʼn seën en ʼn vloek. Deur te werk kan ons ʼn bestaan voer. Dit is alles deel van God se wonderlike plan.

In Salomo se dae was daar mense wat nie wou werk nie, maar hulle wou darem eet. Hulle was eerder lui as moeg. Hulle het nog gelê en slaap nadat die son opgekom het. Hulle het bedags niks gedoen nie. Salomo het hierdie mense kwaai aangespreek, omdat mense wat so leef, treurig is.

Mense wat nie wil werk nie, is nie net dom nie – hulle sal uiteindelik ook in armoede leef. Dit raak egter erger. Mense wat nie wil werk nie, is ongehoorsaam aan God se opdrag om na die aarde om te sien. So ʼn persoon is ʼn sondige dwaas. Luiheid lei reguit na ondergang.

Salomo se raad aan die luiaard is om die miere dop te hou en by hulle te leer. Salomo stuur die luiaard na ʼn besondere skool. Die skool is nie ver nie; trouens dit is vlak voor die luiaard. Die luiaard hoef nie baie moeite te doen nie, anders sou hy of sy dit in elk geval nie gedoen het nie.

Bible Society of South Africav.4.29.1
VOLG ONS