Sielsreis – dag 8
Wanneer die Onsienlike die sienlike aanraak …
Bybelteks(te)
MATTEUS 20
MARKUS 7
Alles wat in die lewe gebeur herinner ons daaraan dat ons nie gemaak is om mensalleen in hierdie wêreld te leef nie, maar om in ʼn verhouding met God te wees.
Hoe is dit moonlikvir sterflike mense soos ons, vra sommige, om in ʼn reële verhouding met die onsterflike, oneindige God te kan staan? Die antwoord is: God het mens geword in Jesus Christus. Die oomblik toe die Woord vlees geword het, het die skeiding tussen die eindigheid en die oneindigheid eindeloos klein geword. Deur mens te word het God dit moontlik gemaak vir Jesus om langs ons te kom staan, die lewe in al sy pyn en vreugde te ervaar en om uiteindelik te sterwe om ons ʼn kans op lewe te gee.
Christus se nalatenskap leef egter steeds voort in ons lewens. Die herinnering aan God se menslikheid dra ons en stel ons in staat om in ʼn verhouding met die onsterflike God en Skepper van die heelal te tree. Terselfdertyd laat Hy ons met wonderlike herinneringe aan sy teenwoordigheid: Jesus het ons geleer hoe om te vergewe; hoe om lief te hê; hoe om uit te reik na die vergetenes; hoe om die tweede myl te loop; hoe om ander se swaarkry op ons te neem; hoe om na mense te kyk met ʼn oog van verdraagsaamheid en om verby ons menslike beperkings uit te reik na ander; hoe om sosiale en klasseverskille te oorkom, en veral hoe om lief te hê.
ʼn Mens word oor en oor verras deur Jesus se vermoë om die skeidslyn tussen die heilige en die aardse oor te steek en die taboes wat mense van mekaar skei te deurbreek. Op ʼn keer toe Hy ʼn doofstom man gesond gemaak het, verrig Hy ʼn paar verrassend intieme handelinge:
Die mense bring toe ʼn dowe man wat ook ʼn spraakgebrek het na Hom toe en vra Hom om tog sy hand op hom te lê. Hy het hom eers eenkant toe gevat, weg van die mense af. Toe het Hy sy vingers in die man se ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer. Daarna het Hy na die hemel toe opgekyk, gesug en vir hom gesê: “Effata!” Dit beteken: Gaan oop! Markus 7:32-34.