Bible Society of South Africa
Hennie Symington

Sielsreis – dag 7

Die Messias onder ons

Bybelteks(te)

35want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My gehuisves; 36Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’ 37Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? 38En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? 39Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’ 40En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’

MATTEUS 25:35-40AFR83Maak oop in die Bybelleser

Eenkeer was daar ʼn Benediktyneklooster wat nooit meer deur iemand besoek is nie. Dag na dag het die broers gesit en wag maar tevergeefs. Stadigaan het hulle oud en grys en moeg geword van die gewag.

Net buite die klooster het daar ʼn ou rabbi gewoon. Mense het van heinde en verre gekom om hom te besoek. Hulle het oor alles gesels en veral oor Jaweh se handeling in die skepping. Dit het vir jare so aangegaan. Op ʼn dag besluit die ab (die hoof van die klooster) om ʼn bietjie met die rabbi te gaan gesels.

Toe hy by die rabbi se hut aankom, het dié hom met ope arms tegemoetgegaan – so amper asof hy hom verwag het. Die ab het dadelik tot die punt gekom. Hy het die rabbi vertel van die monnike wat so toegewyd is maar nie die nodige vuur gehad het om die gemeenskap brandend te hou nie. Hy vra toe of die rabbi vir hom enige insigte het oor Jaweh se werk in hulle lewens. Die ou rabbi leun toe oor na die ab en fluister in sy oor: “Ek gaan vir jou ʼn geheim vertel. Jy mag dit een keer aan die monnike oorvertel en daarna nooit weer nie.” Die ab stem toe in.

“Wel,” sê die rabbi, “die geheim is dat een van julle die draer van die Messias is.” Die ab kon nie wag om die geheim aan die monnike oor te vertel nie. En van daardie dag af begin soek hulle die Messias in mekaar. En soos hulle soek en wonder wie dit kon wees, kyk hulle na mekaar met nuwe oë. Hulle begin om mekaar lief te kry en kort voor lank gaan hulle klooster van krag tot krag.

Die les van die storie? Toe die monnike mekaar begin sien as die moontlike draer van die Messias, kon hulle nie anders as om iets heiligs in mekaar raak te sien nie.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS