Bible Society of South Africa
Hennie Symington

Sielsreis – dag 21

Let wel: Geloof is goed vir jou

Bybelteks(te)

Hoe lief het ek u woning, Here

1Vir die koorleier: met musiek. Van die Koragiete. 'n Psalm.

2Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige!

3Ek versmag van verlange na die tempel van die Here;

met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God.

4Selfs 'n mossie het 'n nes

en 'n swaeltjie 'n plek vir haar kleintjies

daar by u altare, Here, Almagtige,

my Koning en my God!

5Dit gaan goed met mense vir wie u huis 'n tuiste is:

hulle hou nie op om U te prys nie. Sela

6Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind

en graag na u tempel toe gaan.

7Vir hulle gaan daar fonteine oop

wanneer hulle deur 'n dorre laagte trek

en die vroeë reëns sy seëninge bring.

8Keer op keer ontvang hulle nuwe krag

totdat hulle voor God in Sion verskyn.

PSALMS 84:1-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die kat is uit die sak: Navorsing in die VSA sowel as Europa het bewys dat godsdienstige mense baie gelukkiger en meer tevrede is met die lewe as mense wat nie ʼn geloof aanhang nie. Boonop is daar gevind dat godsdiens nie jou moontlikhede op geluk beperk nie.

Statistiek toon ook dat mense wat aktief betrokke is by ʼn kerk of geloofsgemeenskap aansienlik gelukkiger is as ateïste, nie-gelowiges en mense wat slegs in naam gelowig is. Daar is ook gevind dat bejaardes met ʼn gesonde geloof baie makliker hulle omstandighede aanvaar – selfs al kry hulle swaar. Een ou dame het byvoorbeeld gesê as sy die dag terneergedruk voel, sing sy een van die ou hallelujaliedere en dan voel sy sommer baie beter. My eie moeder, wat vir ʼn paar jaar aan demensie gely het voordat sy oorlede is, het haar vreugde tot op die laaste te kenne gegee deur “This is my story, this is my song, praising my Saviour all the day long” oor en oor te sing.

Godsdiens laat jou nie net beter voel nie; dit het ook ʼn sterk invloed op jou geestesgesondheid. Tieners wat gereeld kerk toe gaan, het ʼn baie kleiner kans om die pad byster te raak, of alkohol en dwelms te misbruik. Volwassenes wat kerk toe gaan skei minder, pleeg minder selfmoord, is selfs gesonder en leef langer.

Waarskuwing! Geloof is nie ʼn waarborg vir ʼn probleemvrye lewe nie. Jesus en sy dissipels is nie negatiewe emosies soos woede, hartseer, pyn en lyding gespaar nie. Geloof bied ons egter ʼn verbintenis met ʼn geloofsgemeenskap wat omgee. Dink maar net aan die kere toe jy siek was en jou gemeente vir jou gebid het. Of dalk het jy dit vir iemand anders in jou Bybelstudiekring gedoen.

In ʼn tyd waar mense toenemend die sin van hulle bestaan verloor, voorsien geloof in al ons menslike behoeftes. Dit gee betekenis en ʼn doel aan jou lewe. Dit gee jou die drie belangrikste bestanddele vir geluk: iets om volgens te lewe, iets om voor te lewe en iets om voor te sterwe.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS