Bible Society of South Africa
Hennie Symington

Sielsreis – dag 22

In die lig van Advent

Bybelteks(te)

18Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk.

Hy is die oorsprong daarvan,

Hy is die Eerste,

die Een wat uit die dood opgestaan het,

sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.

19God het besluit

om met sy volle wese in Hom te woon

20en om deur Hom alles

met Homself te versoen.

Deur die bloed van sy Seun aan die kruis

het Hy die vrede herstel,

deur Hom het Hy alles op die aarde

en in die hemel met Homself versoen.

KOLOSSENSE 1:18-20AFR83Maak oop in die Bybelleser

17Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

1 TIMOTEUS 1:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vier weke voor Kersfees vier ons die begin van Advent. Ons kan dan begin om die slapies af te tel na Kersfees. Die ster van Advent is ongetwyfeld Christus. Gedurende die jaar is ons aandag so op onsself en ons eie gesinne gerig en is ons so besig met ons eie probleme dat hierdie maand ons ʼn geleentheid bied om op die aanloop tot die Kersgebeure te fokus.

Te midde van talle redders en messiase wat deur die jare gekom en gegaan het, staan Jesus nie as ʼn blote voetnoot tot die een of ander filosofie of as ʼn ontoeganklike stukkie etiek wat slegs ʼn klein groepie mense verstaan nie. Hy verskyn ook nie as die een of ander sjamaan of heilige wat beloof om jou nader aan God te bring of jou op ʼn reis van selfontdekking te neem nie.

Wie is Hy? Hy is die Goddelike wat teenwoordig is sedert die begin van tyd en ruimte. Anders as die mens is Hy nie na die beeld van God geskape nie maar is God self.

Hy is die Skepper, want “deur Hom en tot Hom is alle dinge”.

Hy is die “hoof” van sy kerk op aarde, want Hy was die eerste om die dood te oorwin. Maar meer nog, God het gekies om in Hom teenwoordig te wees in al sy mag en krag om Hom sigbaar te maak vir ons.

Ons het nie te doen met ʼn blote afskynsel van God of ʼn hulpelose kind in ʼn krip nie. Christus staan as Pantokrator – heerser van die heelal. Die diepste waarheid oor Hom is egter dat Hy Hom kwesbaar gestel het om in ons harte gebore te word.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS