Bible Society of South Africa
Hennie Symington

Sielsreis – dag 19

Gee jou siel ʼn blaaskans

Bybelteks(te)

28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

MATTEUS 11:28AFR83Maak oop in die Bybelleser

30My juk is sag en my las is lig.”

MATTEUS 11:30AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die gelowige gebed

13As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing. 14As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. 15En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. 16Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.

Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking.

JAKOBUS 5:13-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die jaar het sy tol geëis. Die afgelope maande se koerante sê dit alles. Ons weet nie meer waarheen met die nood in ons land, die bekommernis in ons harte en die droogte van die siel nie. Die gevolg? Die behoefte aan geestelike sorg is besig om teen ʼn geweldige pas te groei. Predikante, geestelike werkers en ander sielversorgers kan nie voorbly nie.

Ook in hulle persoonlike lewens sukkel mense om kop bo water te hou. Die kompasse wat ons voorheen op koers gehou het, is wankelrig. Mense verwissel deesdae gedurig van huis, werk, woonbuurt en selfs land. Omdat hulle voortdurend aan die beweeg is, voel hulle nêrens tuis nie. Hulle verloor hulle ondersteuningstelsels, en wanneer mense geskei word van die bekende raak hulle angstig en kwesbaar. Soms bly jy agter in jou omgewing, maar dit is nie meer die ou bekende plek waar jy veilig voel nie.

Mense gaan ook deur ander krisisse soos egskeiding, die dood van ʼn huweliksmaat, werkloosheid, kinders wat aan dwelms verslaaf is, bejaarde ouers wat versorg moet word, verandering van werk, ens. Mense voel bedreig deur die omgewing en in hulle omgewing. Geen wonder ons is soms so sat van siel nie.

Ons almal soek ʼn plek om ons storie te vertel. Ons soek na ʼn oor om te luister, nie ʼn kalmeerpilletjie of iemand wat links of regs raad uitdeel nie.

Help jouself deur ander te help

Elkeen kan op sy manier geestelike sorg verskaf. Jy kan help deur te luister, aan te raak, te troos en te bemoedig, selfs al voel jy jý is eintlik die een wat geestelike sorg nodig het. Wie weet, dalk kry jy nuwe moed deur ander te vertroos. En weet dat God getrou is en jou ook in jou verlatenheid en onsekerheid op die hart dra.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS