Bible Society of South Africa
Hennie Symington

Sielsreis – dag 18

God in plaas van goud!

Bybelteks(te)

36Onderweg kom hulle toe by water aan, en die amptenaar sê: “Hier is water. Wat verhinder dat ek gedoop word?”

38Toe het hy die wa laat stilhou. Filippus en die hofdienaar het albei in die water in gegaan, en Filippus het hom gedoop. 39Toe hulle uit die water kom, het die Gees van die Here vir Filippus weggeneem. Die amptenaar het hom nie meer gesien nie en het sy reis met blydskap voortgesit.

HANDELINGE 8:36-39AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die evangelie is kragtig en ken geen perke nie. Baie jare gelede vertel iemand my van die Chinese egpaar wat hulle op een van hulle reise in China raakgeloop het. Hulle het later vriende geword en oor geloof begin gesels. Die man was nie ʼn gelowige nie maar was baie geïnteresseerd in die Christelike geloof.

(Die Christendom in China het ʼn baie lang geskiedenis maar het baie swaargekry onder die regime van Mao Zedong en ander kommunistiese leiers.)

Hulle het gereeld met mekaar gekorrespondeer. Die man het toevallig later, saam met sy vrou en seuntjie, na Suid-Afrika gekom om by ʼn groot Suid-Afrikaanse maatskappy te kom werk. Hier het hulle begin kerk bywoon en tot bekering gekom. Op ʼn dag skakel die pa, Sjeng Fei, die predikant van die gemeente en sê dat hy en sy gesin graag die volgende Sondag gedoop wil word! Die predikant was natuurlik ʼn bietjie huiwerig, want wat sou die kerkraad sê as hy sommer iemand doop wat niks van die Heidelbergse Kategismus of ander belydenisskrifte weet nie? Sjeng Fei en Nini verduidelik toe dat hulle die volgende week moet terugkeer China toe maar weier om terug te gaan tensy hulle gedoop word. So ʼn versoek kan geen predikant weier nie. (Wie is ons om op rituele aan te dring as Christus iemand teen die gebruike van die Joodse geloof op die sabbatdag genees het?)

Sjeng Fei se woorde, toe hy uiteindelik gedoop is terwyl trane van blydskap oor sy gesig stroom, was: “Ek het na Afrika toe gekom om goud te vind, toe vind ek God.”

Vandag is hulle aktiewe lede van ʼn gemeente in Beijing en elke keer as hulle in Suid-Afrika kom kuier, kom groet hulle hulle familie in Christus met dieselfde ywer as daardie dag toe hulle deel van God se familie geword het.

Mag ons hierdie Kersfees dink aan die talle nuwe Christene in China asook die duisende Christene wat vervolg word in baie lande, veral in die Midde-Ooste, en ook bid vir mense in ons eie land wat vry is om te glo maar hulle eerste liefde vir God en sy kerk verlaat het.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS