Bible Society of South Africa
Hennie Symington

Sielsreis – dag 17

Kraakvars Christene

Bybelteks(te)

3Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

JOHANNES 3:3AFR83Maak oop in die Bybelleser

22Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. 23Julle gees en gedagtes moet nuut word;

EFESIËRS 4:22-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vir baie van ons is die lewe maar ʼn saai affêre. Elke dag dieselfde roetine sonder die vooruitsig op verandering. Dit is so maklik om in ʼn groef te beland sodat ons later nie wil verander nie en nie regtig kan insien hoekom ons moet verander nie. Ons sê graag: Ek’s so gemaak en so gelaat staan. ʼn Luiperd kan tog nie sy vlekke verander nie, of jy kan ʼn ou hond niks nuuts leer nie.

As jy glo dat ʼn ruwe diamant nie geslyp kan word nie, ontken jy die mag van geloof om verandering teweeg te bring. As Christen gaan dit nie oor wie of wat jy is nie maar oor wat wie of wat jy kan word. God was so oortuig dat dit moontlik is om tot inkeer te kom dat Hy hemel en aarde versit het om vir ons die moontlikheid op verandering te skep. Vir ʼn oomblik het God toegelaat dat hemel en aarde mekaar aanraak toe Hy sy Seun gestuur het om as kind in ʼn stal gebore te word net sodat ons harte hernu kon word.

Dit is nooit te laat om te verander nie. As jy mense gedurig aanstoot gee met jou ongeduld en onverdraagsaamheid, is dit nou die tyd vir ʼn sagter aanslag. As jy geen tyd het vir die armes nie, is dit nou die tyd om na hulle uit te reik in God se tyd waar selfs die geringstes onder ons saak maak. Dit is nooit te laat om jou trots neer te lê by die krip nie. Jy kan weer gebore word. Jy kan die mens wees wat God jou bedoel het om te wees: ʼn skitterende diamant geslyp deur die Meesterslyper om jou beste eienskappe briljant te reflekteer.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS