Bible Society of South Africa
Hennie Symington

Sielsreis – dag 16

Op die brandstapel van ligsinnigheid

Bybelteks(te)

HANDELINGE 19

19Heelparty van die mense wat toorkunste beoefen het, het hulle boeke gebring en voor almal verbrand. Hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftig duisend silwermuntstukke werd was.

HANDELINGE 19:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Nie baie mense weet wie Savonarola was nie. Hy was ʼn intelligente jong priester wat gedurende die 15de eeu in Italië gewoon het. Hy het ʼn baie sterk gevoel gehad oor wat reg en verkeerd is. Hy het met oordrewe ywer gepreek teen die sondes van sy tyd en die vergrype van die pous en ander kerklui. Hy het selfs sover gegaan om die kerk as ʼn prostituut uit te kryt.

Hy het ʼn groot aanhang onder die gewone mense gehad, maar die adel en die kerklui wou hom kruisig. Op ʼn dag het hy die mense van Venesië uitgedaag om alles wat hulle tot sonde verlei op ʼn brandstapel te verbrand. En wat ʼn groot vuur was dit nie! Enigiets wat as verleiding beskou kon word het in rook opgegaan. Ongelukkig het almal so sat geraak vir die arme priester dat hy uiteindelik ook op die brandstapel verbrand is.

In Handelinge 19 lees ons ook van ʼn brandstapel waar nietigheid en ydelheid in vlamme opgegaan het. Toe ʼn klomp towenaars in Efese sien hoe kragtig Paulus werk om mense tot bekering te bring het hulle al hulle toorboeke – ons lees ter waarde van 50 000 silwerstukke altesaam – gebring om te verbrand.

Soms voel ʼn mens ook lus om ʼn brandstapel aan die gang te kry as ʼn mens kyk na al die dinge waarmee gelowiges vandag gekonfronteer word. Oral is daar boeke, flieks, tydskrifte, e-posse, musiekvideo’s, webwerwe, straatplakkate, dwelms en drank wat die mens van sy moraliteit beroof en kinders se onskuld steel. Só ʼn brandstapel sal vir seker die moeder van alle vreugdevure wees.

Natuurlik kan ʼn mens nie in vandag se tyd sommer goed verbrand nie. Bou dus vir jou ʼn brandstapeltjie in jou binneste waar jy jou weerhou van sekere dinge wat jy weet ʼn vuurtjie van begeerte in jou of ander se harte gaan aansteek. So word jy nie maar net deel van die stroom van die tyd nie, maar staan jy as ʼn baken van lig vir ander wat ook sat is van ligsinnigheid.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS