Bible Society of South Africa
Hennie Symington

Sielsreis – dag 15

Sê nou maar …

Bybelteks(te)

Die Woord het mens geword

1In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God. 3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

JOHANNES 1:1-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

14Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

JOHANNES 1:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

17God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.

JOHANNES 1:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wat as die Woord slegs woord gebly het? Dan kon dit opgeskryf word in ʼn boek, heilig verklaar word en op die rak gebêre word om stof op te gaar.

Maar die Woord het die onbegryplike, die onvoorstelbare gedoen: Die Woord het vlees geword – dit het menslike vorm aangeneem om God se nimmereindigende liefde aan ons te verklaar. Hoekom? Omdat ons nie die boodskap deur al die eeue heen gekry het nie. Daar was so baie boodskappe. God het ʼn volmaakte tuin geskep waar die mens in skoonheid en in volmaakte harmonie met sy Skepper kon verkeer. Maar ons het nie die boodskap gekry nie. Toe stuur God ʼn vloed om ons te waarsku. Maar ons het nie die boodskap gekry nie. Hy het vir ons wette gegee om ons te help om reg te lewe. Maar ons het nie die boodskap gekry nie. Hy het profete by die dosyne gestuur om God se boodskap aan ons te verduidelik. Maar ons het steeds nie die boodskap gekry nie. Toe kom God self. Hy het hierdie koppige, deurmekaar wêreld so liefgehad dat Hy mens geword het en saam met ons kom woon het in die stowwerige paadjies van ons dorpe en stede.

Nou sou hulle tog sekerlik verstaan wanneer hulle God kan sien en aanraak en ervaar hoe Hy geleef het toe Hy by ons was. Hoe Hy die siekes gesond gemaak het en die gebrokenes aangeraak het. Hoe Hy gelag en gehuil het en ons geleer het om te bid. En hoe Hy Homself gegee het om gekruisig te word: “Dit is my liggaam, gebreek vir jou.”

Toe het die Woord teruggekeer vanwaar Hy gekom het, om ʼn plek vir ons gereed te maak en sy Gees te stuur om ons te lei en te herinner aan God se teenwoordigheid en sy ewige liefde vir ons.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS