Bible Society of South Africa
Hennie Symington

Sielsreis – dag 14

Die som van die dele is gelyk aan die geheel

Bybelteks(te)

4Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. 5Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar.

ROMEINE 12:4-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Toe Jesus gevra is om op te som wat Hy glo, antwoord Hy kort en bondig: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en jou medemens soos jouself. Dit is waaroor ons geloof gaan: verhoudings, nie net met God nie maar met ander. Hierdie opsomming van die gebooie dek die hele spektrum verhoudings waarmee ʼn mens daagliks in jou omgang met mense gekonfronteer word.

Maar wat beteken dit in die praktyk? Ons land word gekenmerk deur polarisasie tussen groepe. Die armes voel veronreg deur dié met geld, en dié wat het voel bedreig deur die ellende rondom hulle. Ons taak is om hierdie verhoudings te herstel. Om dit reg te kry moet ons tyd saam met ander Christene deurbring en maniere vind om saam te werk, nie net op Sondae wanneer ons as die liggaam van Christus aanbid nie, maar ook as medeburgers van die wêreld waarin ons woon. En net soos elke ledemaat in ʼn liggaam afhanklik is van ʼn ander, is ons deel van die liggaam van Christus. As deel van die liggaam vorm elkeen van ons ʼn onmisbare skakel in die weefsel van ons gemeenskappe. Ons kan dus nie eenkant bly staan wanneer ons broers of susters in Christus ly nie.

As die liggaam van Christus moet ons ons stem laat hoor in ons eie gemeenskap waar geregtigheid en genade aan mense ontsê word. Waar daar armoede is, moet ons die hand uitsteek om te help. Waar daar onkunde is, moet ons ons moue oprol en ons kennis met mekaar deel. Ons is die hande en voete van Christus in ʼn wereld wat blind en doof is vir die uitroepe van dié wat ly. Wat meer is, ons hoef nie ver te gaan soek om nood te verlig nie; die nood is rondom ons. Kom ons maak die koninkryk van God sigbaar in ons omgewing deur sy hande en voete in die wêreld te wees.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS