Bible Society of South Africa
Hennie Symington

Sielsreis – dag 10

Huislikheid en heiligheid deel van menslikheid

Bybelteks(te)

Op besoek by Marta en Maria

38Op hulle reis het Jesus in 'n dorp gekom waar 'n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. 39Sy het 'n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het. 40Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!”

LUKAS 10:38-40AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die Bybel kry ons selde ʼn kykie op Christus se lewe as ʼn gewone mens. Tog is daar ʼn paar geleenthede waar ons Jesus in ʼn doodgewone huishoudelike situasie met die mense naaste aan Hom ontmoet.

In die begin van die boek Markus lees ons dat Simon en Andreas Hom uitnooi vir ete ná “kerk”. Toe Jesus hoor dat Simon se moeder ongesteld is, gaan Hy in die huis om haar te groet. Hy neem haar hand en maak haar gesond, waarna sy opstaan en vir hulle ʼn maaltyd voorsit.

In Lukas bevind Hy Hom in ʼn baie menslike en selfs amusante situasie waar die twee susters, Maria en Marta, op verskillende maniere met Hom omgaan. Maria hang behoorlik aan Jesus se lippe terwyl hulle lekker gesels, dalk oor wat die mense van Hom sê, of oor die betekenis van die gelykenis wat Hy kort tevore vertel het. Marta kon haarself nie beteuel nie. Sy storm in en kla by Jesus omdat sy al die huishoudelike take moet verrig terwyl Maria aan sy voete sit en niksdoen. Hoe menslik! Hoe reageer Jesus hierop? Hy is nie kwaad of geïrriteerd nie. Hy erken eerder elkeen se aard, amper asof Hy wil sê: “Ontspan, Marta, doen waarvan jy hou terwyl Maria doen wat sy verkies om op hierdie oomblik te doen.”

In Christus se gedagtes is huislikheid en heiligheid met mekaar verweef. Hy het aarde toe gekom as ʼn mens, en om mens te wees beteken om verhoudings te hê met dié wat die naaste aan jou is. Hoe wonderlik menslik van Jesus om dit raak te sien en hoe goddelik van Hom om deel te hê aan die intimiteit wat ʼn gewone familie Hom kon bied.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS