Bible Society of South Africa
Hennie Symington

Sielsreis – dag 11

Om God as kwesbaar te ervaar

Bybelteks(te)

Christus die krag en die wysheid van God

18Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. 19Daar staan tog geskrywe:

“Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig,

en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.”

20Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie? 21Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. 22Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid,

1 KORINTIËRS 1:18-22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. Daar staan tog geskrywe:

“Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig,

en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.”

Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie? Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. 1 Korintiërs 1:18-22

Mense dink selde aan God as kwesbaar. In ons harte droom ons van ʼn God wat rotsvas is – ʼn kragdadige God wat regmaak wat stukkend is, wat red wat daar te redde is. Dit is eie aan ons menslike natuur om ʼn god te wil aanbid wat almagtig is: Die ou Griekse mitologie het Zeus met sy weerligstrale gehad wat hy links en regs uitgestuur het as hy kwaad was, terwyl die Egiptiese god Ra en Shiva uit die Hindoe-mitologie magtige gode was wat nie net die magte van die natuur kon beheer nie maar ook die lot van mense. Selfs Jaweh in die Ou Testament word voorgestel as die God wat magtiger is as die Egiptiese gode. Onthou jy nog hoe Moses die God van Israel teen die gode van die farao afgespeel het en Elia wat Baäl op Karmelberg uitgedaag het, amper asof hy wou sê: “My God is tog sterker as joune.”

In Christus ervaar ons egter God as die kwesbare. Hy maak nie sy verskyning in mag en glorie nie maar as ʼn hulpelose baba in ʼn krip, met doodgewone ouers soos ek en jy. Hy het nie eens ʼn plek gehad om sy kop neer te lê nie, en is as ʼn misdadiger gekruisig.

Hoekom? Waarom kies die Heerser van die heelal om Hom op hierdie manier aan die wêreld te openbaar? Wat sê dit vir ons dat God kies om op hierdie manier met die wêreld om te gaan? Dalk omdat God in sy gewonde toestand dit regkry om sy solidariteit te toon met die swakkes, die buitestanders, die gebrokenes, die uitgeworpenes en diegene wat fisiek sowel as geestelik ly. En met jou en my. Hy is ons broer en ly saam met ons in alle omstandighede. En deur sy lyding, red Hy ons van die dood. Dit noem ek mag in die ware sin van die woord.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS