Bible Society of South Africa
Gerhard Lindeque

Sewe dae van inspirasie uit Openbaring - Dag 6

Ek hou julle vas

Bybelteks(te)

DIE OPENBARING 3

Die boodskap aan Filadelfia

7Skrywe aan die leraar van die gemeente in Filadelfia:

So sê die Heilige, die Ware God,

Hy wat die sleutel van Dawid het,

wat die deur oopsluit

en niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie:

8Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het 'n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie.

9Kyk, Ek beskik dat van die lede van die sinagoge van die Satan, die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg – kyk, Ek sal maak dat hulle kom en voor julle kniel en erken dat Ek julle liefhet. 10Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. 11Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie.

12Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.

13Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

DIE OPENBARING 3:7-13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die sleutel van Dawid in hierdie gedeelte verwys waarskynlik na Jesaja 22:22 waar Eljakim die verantwoordelikheid kry om die toegang tot die koning se paleis in Jerusalem te beheer. Deur Jesus Christus kry ons nou vrye toegang tot die koninkryk van God. Jesus Christus is die sleutel wat dit vir mense moontlik maak om deel van God se koninkryk te wees. Die troos vir die kerk is dat niks of niemand weer hierdie deur kan toesluit nie. Dit wat Jesus Christus gedoen het, kan nie ongedaan gemaak word nie.

Die sinagoge van Satan verwys na mense wat vyande van God en sy kerk is. In die eerste eeu na Christus was daar onder andere ook Jode wat die kerk vervolg het. Hulle was van mening dat hulle die ware volk van God is. Die kerk, dit wil sê almal wat in Jesus Christus glo, is egter God se volk. Ons is vandag ook nog deel van God se volk. Maar juis dit maak dat ons vyandigheid en teenkanting te wagte moet wees.

Die uitdrukking “vashou” word drie keer in hierdie gedeelte gebruik. Eers word dit gebruik as ʼn bevestiging dat die gelowiges aan Jesus Christus se boodskap van volharding in lyding vasgehou het, dan as ʼn belofte dat God hulle sal vashou in die tyd van beproewing en laastens as ʼn oproep aan die kerk om vas te hou aan hulle kroon. Laasgenoemde dui daarop dat ons deel het aan die koninkryk van God.

Lyding en beproewing is deel van elke gelowige se lewe. God belowe nie dat ons nie sal swaarkry nie maar wel dat Hy ons sal vashou en by ons sal wees wanneer dit op ons pad kom. Ons as sy kerk leef in afwagting van Jesus se wederkoms. Dit gee aan ons hoop. Ons is vir God belangrik. Soos ʼn pilaar in die tempel is ons altyd in God se teenwoordigheid en het God met ons ʼn persoonlike en intieme verhouding deurdat ons elkeen ʼn nuwe naam van God kry. Dit maak van ons mense met ʼn nuwe identiteit wat anders leef.

Dink na oor:

  1. 1.Is dit altyd maklik om deel van God se koninkryk te wees?
  2. 2.Watter verandering behoort dit aan ons lewens te maak?

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS