Bible Society of South Africa
Gerhard Lindeque

Sewe dae van inspirasie uit Openbaring - Dag 5

Word wakker!

Bybelteks(te)

DIE OPENBARING 3

Die boodskap aan Sardis

1Skrywe aan die leraar van die gemeente in Sardis:

So sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het:

Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.

2Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie.

3Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou daarmee vol en bekeer julle. As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos 'n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle sal afkom nie. 4Maar julle het darem 'n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie, en hulle sal altyd in wit klere by My wees omdat hulle dit waardig is.

5Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort.

6Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

DIE OPENBARING 3:1-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Soms moet God hard met ons praat om ons wakker te skud uit ons valse gerustheid. Soos die ander gemeentes, verteenwoordig die gemeente Sardis in hierdie gedeelte ook die kerk van alle tye en die tipiese omstandighede wat soms in die kerk voorkom. Een daarvan is dat dit soms kan lyk asof die kerk lewe terwyl dit eintlik geestelik dood is. Die probleem is dat ʼn gemeente baie doenig en aan die gang kan wees en in die oë van mense as lewendig voorkom, maar in God se oë is hulle eintlik geestelik dood. Hulle ken God nie en leef nie in ʼn verhouding met God nie.

Tog skryf God nie die kerk af nie. God hou die kerk in stand deur sy Gees en deur die verkondiging van sy Woord. Die kerk word gewaarsku om wakker te word. Dit herinner ons aan die gelykenis van die meisies met die lampe wat nie gereed was vir die koms van die bruidegom nie. Waar mense hulle verhouding met God afskeep, tas dit die hart van die kerk aan. Dan is dit nodig om weer terug te keer na die basiese beginsels van die evangelie – die goeie nuus van God se genade en liefde.

Geestelike doodsheid word nie omgekeer deur oppervlakkige veranderings te maak nie. Dit verander eers wanneer ʼn mens besef dat dit net deur God se genade is waardeur ons van die sonde gereinig word. Dit word deur die wit klere uitgebeeld. Watter onuitspreeklike voorreg is dit nie dat ons name vir altyd in die boek van die lewe geskryf sal staan? Ons is deur Jesus Christus vrygespreek en behoort vir altyd aan Hom. Niks of niemand kan dit van ons af wegneem nie.

Dink na oor:

  1. 1.Hoe gebeur dit dat ʼn mens se verhouding met God doodgaan?
  2. 2.Wat is die kern van ons verhouding met God ?
  3. 3.Moet ons in vrees lewe vir Jesus se wederkoms?

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS